Nuuskommentaar: Begin van die einde vir provinsies?

Die nuus dat die sentrale regering ingryp in drie provinsies kom vir niemand as verrassing nie – veel eerder dat dit nou eers gedoen word hoewel reeds voorheen op beperkte skaal ingegryp was soos in die Oos-Kaapse onderwys. En dit is juis die feit dat nou eers ingegryp word wat ‘n vraagteken laat oor of daar nie dalk bymotiewe by is nie. Dit is lank reeds bekend dat daar ‘n sterk gevoel binne die ANC is om van provinsies, of dan, die tweede vlak van regering ontslae te raak, of dan minstens die provinsies te verminder.

Die bespreking wat die toekoms van provinsies in die ANC sedert 1994 gevolg het word goed uiteengesit in die party se subkomitee vir Provinsiale en plaaslike regering se 2010 besprekingsdokument: “Of the three spheres of government, provincial government is the only sphere whose actual need and existence is still contested sixteen years after democracy. The provincial system has also raised challenges for the ANC on matters of deployment, where in some provinces leadership of the provincial party and provincial government are different. An assessment is provided of key areas related to the performance of provinces against their constitutional mandate.”

Die verslag verwys onder meer daarna dat die Kabinet die Departement van Provinsiale en Plaaslike regering in 2007 die mandaat gegee het om ‘n Witskrif oor die toekoms van provinsiale regering op te stel. In 2009 het die Kommissie wat ondersoek hierna ingestel het ‘n neutrale bevinding die lig laat sien. Een ‘n gedagtegang is om die Oos- en Wes-Kaap as een provinsie saam te voeg wat ook weer die vraag laat oor die motief daaragter. Wyd word bespiegel dat dit ‘n verskuilde motief het om die DA van die enigste provinsie wat dit regeer – en die ander in die skande steek – so uit die DA se hande wil wring.

Daar is egter komplikasies. As swak administrasie rede vir ontbinding is, sou ‘n hele paar departemente op sentrale regeringsvlak ook reeds in die slag moes bly. En seer sekerlik sou die munisipale regeringsvlak lank reeds begrawe moes gewees het. Die vernaamste argument teen dié houding teenoor die provinsies is egter dat die ANC self deur onoordeelkundige ontplooiings die provinsies in duie laat stort het. Dit skep ‘n gevaarlike presedent – staan ‘n situasie die regering nie aan nie, word daar gewoon hopelose kaders ontplooi, dit stort in duie en word afgeskaf. Dit is egter bloot ‘n hipotese.

Van meer belang is die grondwetlike proses. Die nege provinsies was die resultaat van omvattende multi-dissiplinêre navorsing, wat ten doel gehad het om sekere diversiteite ekonomies lewensvatbaar te ondervang. Dit vorm ‘n belangrike skakel in die staatkundige aanspreek van kulturele diversiteit, soos dit ook kristalliseer in die provinsies se amptelike tale. Tweedens bring dit op sekere vlakke die regering nader aan die mense en verdiep demokrasie so. As daar leemtes is, is dit eerder ‘n geval dat dit nie ver genoeg gaan nie. Nie alle bevolkingsgroepe het so ‘n vorm van regeeroutonomie gekry nie, en word ook nie op die korporatiewe vlak ondervang nie.

‘n Verder aspek is dat die konsep van provinsies ‘n deel van die Kemptonparkse ooreenkoms was – wat die ANC toegee, en dat die voortspruitende grondwetlike beginsels uitdruklik bepaal dat toekomstige grondwette vir regering op drie regeringsvlakke voorsiening moet maak. Hoewel daar meningsverskil oor die huidige status van die grondwetlike beginsels is, is daar redelike konsensus dat dit minstens die juridiese drakrag van konvensie behoort te hê, wat beteken dat dit as byna onveranderlik beskou behoort te word tensy daar effektief geen steun meer voor is nie.
Dat die stelsel onder druk is, is nie so seer die grondwet se skuld nie, maar kan regstreeks na kaderkeuses teruggevoer word. Jaar vir jaar spreek die ouditeur-generaal harde oordele uit, daar is ook ander ondersoeke, maar die kaders gaan gewoon ongesteurd voort of word hoogstens gehersirkuleer. Die gevolge loop soos ‘n swart streep wat ‘n vlieg trek wat in die ink geval het.

Een van die Vrystaatse departemente wat nou in die sop is, se vorige LUR het ‘n “geskiedenis” wat soos ‘n riller lees. Die betrokkene was na 1994 ‘n direkteur in die destydse Vrystaatse departement van Ekonomiese Sake. Na ‘n verdoemende verslag van die Openbare Beskermer is die departement ontbind. Die betrokkene is hierna onder meer as hoof van die Vrystaatse Toerismeraad en Dobbelraad aangewend en is telkemale aangeskuif na dit deur ‘n verdoemende verslag van die ouditeur-generaal opgevolg is. Na ‘n ruk as ‘n munisipale raadslid, is hy as munisipale bestuurder in Qwaqwa aangestel is. Die bestuur hiervan is onder administrasie geplaas. Hy, met ‘n hoogste kwalifikasie ‘n honneurs in Engels, is hierna bo twee gekleurde persone met toepaslike meestersgrade as ‘n groot munisipaliteit se uitvoerende direkteur ekonomiese ontwikkeling en beplanning aangestel, en ‘n ruk later as munisipale bestuurder. Steeds het verdoemende verslae van die OG hom gevolg. Toe word hy LUR, en die provinsiale tenderraad val ook onder hom. Kort voor lank stel die hooggeregshof verskeie tendertoekennings tersyde, en in een geval doen die hof sommer self die hertoekenning. Toe word hy uitvoerende burgemeester, en kort hierna is die departement wat hy op die oog af in die afgrond in bestuur het deur die kabinet onder administrasie geplaas.

Ongelukkig is hierdie soort verhaal nie uitsonderlik nie, veral nie op plaaslike regeringsvlak nie waar uitgevangde munisipale bestuurders bloot hersirkuleer word. ‘n Munisipale bestuurder wie se munisipaliteit onder administrasie was, is ook as LUR aangestel – ironies as LUR vir plaaslike regering. Hy is weliswaar later geskuif toe nog vlekke op die lappe begin kom en onluste uitgebreek het. ‘n Afgedankte munisipale bestuurder wat op aanklagte van onder meer korrupsie teregstaan is as administrateur van ‘n munisipaliteit aangestel wat in duie gestort het.

‘n Munisipale bestuurder wat in een provinsie droog gemaak het en onder meer deur ‘n kommissie van ondersoek uitgewys is, het munisipale bestuurder in ‘n ander provinsie geword, en daar gou ook die aandag van die Ouditeur-generaal getrek. Hy is egter ook as administrateur van twee naburige munisipaliteite aangewend, en beklee nou ‘n sleutelpos in die nasionale departement wat vir plaaslike regering verantwoordelik is. Op die oomblik bly ‘n Noord-Kaapse LUR rustig in sy pos aan terwyl hy op aanklagte van korrupsie verhoor word. Die ANC maak dit duidelik dat dit hom nie as ‘n Block aan die been beskou nie.

Die nasionale ingryping nou moet nietemin verwelkom word. Dit is egter ook belangrik dat vrot kolle geïsoleer en uitgehaal moet word, en nie bloot hersirkuleer of selfs elders heen bevorder word nie. Elke stap om korrupsie en wanadminstrasie hok te slaan, verdien almal se steun. Die land kan nie sulke liederlike inkstrepe bekostig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.