Nuuskommentaar: SA sonder Malema

Julius Malema. Foto: Werner Beukes/SAPA

Julius Malema en sy kornuite se appèl teen hul vonnisse het gister misluk na ook hul appèl teen hul skuldigbevinding in die slag gebly het. Hulle het 14 dae tyd om te appèlleer….

Dit wil op die oog af voorkom asof die land nie heeltemal die Malema-nagmerrie kan vergeet nie – in elk geval nie tot die einde van die jaar wanneer die ANC se nasionale kongres plaasvind en sy appèlopsies finaal uitloop nie. Tot dan, word Malema egter in wese gesnoer; selfs Malema behoort nou te besef dat rug-styfmakery en om uitdagend teenoor die ANC te wees, nie help om sy posisie te beredder nie. In die proses word die weerbarstige Jeugliga se leierskap self onder die maatemmer geplaas. Dit skep ook ‘n juridiese dilemma vir die ANC. Malema is in die gelykheidshof aan haatspraak skuldig bevind oor sy volharding met die sing van die lied, Skiet die boere. Hy het, met die volle ondersteuning van die ANC, appèl aangeteken. Nou verkeer die ANC onder die ongemaklike posisie dat dié organisasie iemand verdedig wat geskors is.

Waarnemers wys daarop dat sake wat vir die land ‘n erge verleentheid is, nie sommer as verleentheid in die ANC ervaar word nie. Malema is ‘n voorbeeld van ‘n nasionale ramp, wat eers vir die ANC ‘n klip in die maag geword het nadat hy pres. Jacob Zuma se leierskap die rug toegekeer het. Dit het hom ‘n eerste dissiplinêre verhoor op die lyf laat loop, waar die ernstige klagtes links laat lê is en hy aan die absurditeit skuldig bevind is dat hy Zuma met oud-pres. Thabo Mbeki vergelyk het. Vir dié skynbare doodsonde in Zuma se gedagtewêreld het Malema ‘n opgeskorte vonnis gekry. Uit ‘n nasionale perspektief tel Malema se oproepe dat blanke plase sonder kompensasie afgevat moet word omdat blankes skurke is wat swart mense se grond gesteel het, sy oproepe vir die nasionalisering van myne, en die wyse waarop hy hom skandelik teenoor ‘n BBC-joernalis gedra het, onder die skadelikste insidente. Binne die jeugliga is dit as heldedade ervaar.

‘n Ernstige terugslag vir enige sweempie van nasionale versoening was dat Malema op die aanklag dat hy blankes skurke genoem het, weens ‘n sogenaamde gebrek aan getuienis onskuldig bevind is. By minstens een geleentheid waar Malema sy mond so uitgespoel het, het hy die verhoog met Zuma gedeel en sou daar geen probleem mee wees om getuienis te bekom nie. Dit lyk egter of die politieke wil hiervoor skandelik ontbreek. Die grootste gevaar vir die land nou is dat Zuma, in ‘n poging om die einde van die jaar die valbyl te oorleef, sy lomp pogings sal laat vaar om aan elke gehoor op te dis wat hy meen die gehoor van sal hou, en hom sal probeer inwurm in die populistiese vakuum wat Malema nou voorlopig laat. ‘n Eerste waarskuwingsteken was toe hy gister ‘n emosionele lied oor grond aangehef het. Dit volg kort na Zuma dr. Pieter Mulder, na Mulder se kliniese geskiedenisles in die parlement, die kop gewas het. Uit die histeriese reaksie hierop was dit duidelik dat daar veel politieke munt te slaan is om Malema se geskiedenisweergawe te benut.

Malema is in berig op berig as die enkele grootste polariseerder in die land beskryf – en ‘n vakature vir hierdie “amp” moet liefs afgeskaf word as om dit weer te probeer vul. Intussen kan verwag word dat die verskillende instansies soos die Openbare Beskermer en Valke wat na Julius se beweerde tenderpreneurskap kyk, ook hul ondersoeke sal begin afhandel. Hulle sal immers onder voldoende politieke druk verkeer om nie voete te sleep nie. Dié proses het op die oog af die potensiaal om Malema self, en waarskynlik van sy belangrikste politieke beskermhere, deur kriminele vervolging uit sirkulasie te haal voor die ANC se eie appèlproses voltrek is. Indien dit sou gebeur ontsnap Zuma weer die verantwoordelikheid om staatsmanskap, eerder as ‘n politieke vegter, aan die dag te lê.

In die geheel beskou is Malema ‘n ramp waarsonder die land veel beter daaraan toe is. Dit gaan egter staatsmanskap verg om die sleeptou-effek wat Malema aan die gang gesit het, ‘n meer gebalanseerde werklikheidsperspektief te laat vorm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.