Nuuskommentaar: Wind uit die regspraak se seile?

Formeel bestaan ‘n demokrasie uit drie bene – die wetgewende, uitvoerende en die regterlike of juridiese bene. Die wetgewende en die uitvoerende gesag is noodwendig betreklik inmekaar geweef omdat die kabinet, dus die uitvoerende gesag – se samestelling grootliks deur die samestelling van die wetgewende liggaam – die parlement bepaal word en die meeste lede van die kabinet gewoonlik ook lede van die parlement is, en dus twee stoele beklee.

Die parlement het tradisioneel ook ‘n oorsigrol oor die funksionering van die kabinet, of dan minstens die staatsdepartemente. Veral in ‘n grondwetlike demokrasie is die grondwet die hoogste reg en staan die regbank los van die ander twee bene, en die ideaal is ‘n onafhanklike regbank. Die Suid-Afrikanse grondwet stel dit duidelik dat die juridiese gesag in die onafhanklike howe gesetel is, dat hulle slegs deur die grondwet en reg gebind word en dat hulle dit onbevooroordeeld moet toepas. Geen persoon of staatsliggaam mag met die funksionering van die howe inmeng nie. Staasliggame moet deur wetgewing en ander maniere die howe bystaan om onafhanklik te kan wees, en ook toeganklik en doeltreffend.

Teen dié agtergrond sou dit logies wees dat die staat evalueer of daar voldoende maatreëls en middele is om die howe toeganklik en doeltreffend te maak. Oorwerkte howe weens te min befondsing, kan moeilik as optimaal doeltreffend beskou word. Is die howe werklik toeganklik genoeg vir almal dat almal se regte soos in die handves van menseregte vervat, beskerm word? Oor dié kwessies word gereeld geskryf, en dit sou nie vreemd wees as die kabinet ‘n ondersoek sou instel om dié aspekte te monitor nie. Voorts sou grondwetkenners nie ‘n probleem daarmee hê nie as iemand verantwoordelik gemaak word om te monitor of die staat hofbeslissings, en veral grondwethofbeslissings, toepas. Dit is egter kennelik nie wat die kabinet in die oog het nie met sy aankondiging gister dat hy ‘n navorsingsaanstelling gaan vra om ondersoek in te stel om die grondwethof se beslissings te beoordeel, as deel van ‘n ondersoek na die transformasie op die regbank.

Dié aankondiging was so swak geformuleer dat ander, minder belangrike aankondigings soos die voorgenome skrapping van die vyfsentstuk gister die nuus oorheers het, en hierdie kwessie tot laataand bykans nie as nuuswaardig beskou is nie. Teen vanoggend het die alarms al goed afgegaan en die meer gerekende media het ‘n wye reeks grondwetkenners geraadpleeg. Die kern bly dat die aankondiging te vaag was, en dat die angel uit die motiewe sal blyk.

Tot die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling volgende week meer besonderhede bekend maak, het waarnemers ongelukkig net die omstandighede in die aanloop om te verreken, en daar lyk sake onheilspellend. Nie net pres. Jacob Zuma nie, maar verskeie van die ANC se voorste ringkoppe, het die afgelope tyd hul frustrasie met die regbank en veral die grondwetlike hof uitgespreek. Hieruit het ‘n onheilspellende vlak van onkunde geblyk oor wat ‘n grondwetlike demokrasie werklik behels. Die kern van die probleem is dat gevoel word die demokrasie is in die meerderheidsparty gesetel, dat besluite in Lethuli-huis geneem word, deur die parlement as rubberstempel gevoer word, en dan in die grondwetlike hof bloedneus kry.

Dit lyk of die regering darem bewus daarvan is dat sy regsadviseurs dalk nie bekwaam genoeg is nie en daarom daardie hulpbronne in ‘n tipe liggaam wil poel. Hoewel die grondwetlike hof in die reël groot lof vir die gehalte van sy uitsprake en onafhanklikheid kry, is dié hof soos alle ander howe nie bo kritiek nie. In ‘n baie onlangse artikel verwys mnr. Dave Steward, uitvoerende hoof van die FW de Klerkstigting na die uitspraak van die Grondwetlike hof in Minister van Finansies teen Van Heerden (2004) wat min of meer bepaal het dat feitlik enige diskriminasie teen wittes ingevolge artikel 9(2) – om gelykheid te bevorder – billik en dus toelaatbaar is. Die Hof het die beskerming teen onbillike diskriminasie in artikels 9(3) en 9(5) eenvoudig geïgnoreer. ‘n Uitspraak oor die onteiening van padreserwes is ook al as bisar beskryf.

As die nuutste inisiatief op ‘n magstryd tussen die ANC en die grondwethof dui, is sake werklik kommerwekkend. Die ANC se uitsprake, ook geaksentueer deur Julius Malema, dui daarop dat die kernbegrip van ‘n demokrasie, naamlik regeer in algemene belang, nie begryp word nie. Trouens, die ganse beleid van kaderontplooiing dui op ‘n onbegrip van wat demokrasie behels. Die aanklag teen die howe is in wese dat dit die wil van die meerderheid frustreer, sonder om in ag te neem dat wat geïmpliseer word, op die diktatuur van die meerderheid neerkom. Teen die agtergrond was die wyse waarop pres. Zuma ‘n nuwe hoofregter aangestel het kommerwekkend, en die feit dat hy daarmee weggekom het is waarskynlik aan ‘n leemte in die grondwet te wyte.

In ‘n volwasse demokrasie speel konvensie ‘n belangrike rol, en in die geval van Suid-Afrika sou dit inbegrepe wees dat die grondwetlike beginsels waarop by Kemptonpark ooreengekom was, minstens as konvensie erken sou wees, en in sake waar onduidelikheid bestaan, hierdie beginsels geraadpleeg sou word. Die beste belang van die land sou te alle voorop gestel word. Met die jongste wetgewing oor die beskerming van staatsinligting het internasionale mediavryheidswaghondinstellings soos Verslaggewers Sonder Grense (VSG) en Freedom House die regering gestriem. VSG het Suid-Afrika verlede jaar met vyf plekke op die persvryheidsindeks laat terugsak, terwyl Freedom House die land tot slegs gedeeltelik pervrye land geherklassifiseer het – en toe was die aanvaarding van die wetgewing nog slegs ‘n toekomstige moontlikheid. Freedom House, in sy reaksie, wys insiggewend daarop dat dit Suid-Afrika op die staatkundige indeks nog as vry land klassifiseer, maar die feit dat dit nodig was om dié kwessie teen die agtergrond van die nuwe wetgewing te opper, is insiggewend.

En daarna het hierdie aankondiging gekom. Die kumulatiewe uitwerking hiervan moet nie onderskat word nie. Die vrye media word internasionaal as die vierde, nie-amptelike maar nie minder belangrike nie, deel van die demokrasie beskou. Dit sterk Suid-Afrika nie tot eer nie dat selfs nog voor die jongste wetgewing Suid-Afrika volgens Freedom House en VSG se indekse lank nie meer die mees persvrye land op die kontinent is nie. Dit boemerang na ander indekse soos die beleggersvertroue-indekse en die korrupsiepersepsie-indeks.

Suid-Afrikaners moet duime vashou dat die regering voor die minister meer duidelikheid bring, sal herbesin en ‘n verantwoordelike besluit ter tafel sal bring. Die ervaring is egter nie goed nie. Pres. Zuma en sy belangrikste kornuite word gereeld gestriem oor hul vreemde godsdiensuitsprake. Selfs na die Verenigde Gereformeerde Kerk gesê het dit gaan hul lidmate vra om daaroor nie vir die ANC te stem nie, en die NG Kerk gedreig het dat dit ook so sal maak, het Zuma en kie gewoon daarmee aangegaan. Onlangs nog het Zuma weer die wenkbroue laat lig deur te sê die ANC is soos God – vinnig om te luister maar stadig om te lewer. Dieselfde naweek het hy gesê kerke moet eintlik ook die ANC se 100-jarige fees volgende jaar saam met die ANC vier. Daardie soort koppigheid voorspel niks goed vir ‘n aanslag teen die howe nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae