AfriForum stel Covid-19-plan bekend

Johan Kruger (Foto: Verskaf)

AfriForum het Donderdag ’n plan bekendgestel vir gemeenskappe wat tans swaar trek te midde van die voortgesette, landwye, algehele afsondering. Volgens dié burgerregteorganisasie het sy plan ten doel om onafhanklikheid van die staat, selfstandigheid en gemeenskapsamewerking te bevorder om die gemeenskappe op te hef, te versterk en te ondersteun.

“Dit is belangrik dat ons nou eienaarskap van ons toekoms neem en sáám bou,” sê Johan Kruger, AfriForum se hoof van gemeenskapsontwikkeling, in ʼn verklaring.

Volgens Kruger is AfriForum tans daartoe in staat om op volhoubare selfbestuurmodelle vir munisipale dienste voort te bou danksy vrywilligers wat landwyd by sy takke en buurtwagte ingeskakel is. Só kan ernstige voedselnood verlig word, veiligheidsinisiatiewe versterk word en voldoende voorbereiding getref word vir die heropening van onder meer skole en kleuterskole, sê hy.

“Die grootskaalse voedselverspreidingsprojek wat onlangs in samewerking met Solidariteit Helpende Hand en Saai van stapel gestuur is, beklemtoon die krag van gemeenskappe,” voeg Kruger by.

Ian Cameron (Foto: Verskaf)

Ian Cameron, AfriForum se hoof vir gemeenskapsveiligheid, glo honger, armoede en die verlies aan inkomste tydens die afsonderingstydperk kan tot ’n toename in misdaad lei.

“AfriForum se veiligheidstrukture is gerat om binne die raamwerk van die wet op te tree indien dit nodig sou wees. Ons is tans ook besig om aanlyn opleiding vir veiligheidstrukture uit te brei. AfriForum se strukture gaan ook volstoom met die verspreiding van voedsel en noodsaaklike items in gemeenskappe voort,” sê Cameron.

Luidens die verklaring sal AfriForum voortgaan om aksies van stapel te stuur en skroom hy nie om die howe te nader om te verseker dat gemeenskappe en minderhede se regte beskerm word.

Kliek hier om die volledige plan te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.