DA soek datum vir raadsvergadering in Maluti-a-Phofung

(Foto: Maluti-a-Phofung/ Facebook)

Die DA doen ʼn beroep op die speaker van die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit in die Thabo Mofutsanyana-distrik in die Vrystaat om ʼn dringende raadsvergadering te belê om probleme wat die gebied teister op te los.

Hierdie probleme moes al op ʼn raadsvergadering wat op 5 Desember sou plaasvind bespreek word. Die vergadering is egter uitgestel.

Volgens Moshe Lefuma, die DA se hoofsweep in die munisipaliteit, is daar nog nie ʼn nuwe datum vir die vergadering bepaal nie.

Agendapunte wat bespreek sou word, sluit in die mosie van wantroue in die leierskap van die munisipaliteit en die verslae van die munisipale komitee oor openbare rekeninge wat by die tesourie ingedien moet word.

“Kwessies wat bespreek sou word, is nou vergete aangesien speaker Paratlane Motloung weier om ʼn nuwe raadsvergadering te skeduleer,” sê Lefuma.

“Die uitstel van dié vergadering het ernstige gevolge vir inwoners. Die ineenstorting van dienslewering, watervoorsiening en kragonderbrekings is ʼn daaglikse herinnering vir die gemeenskap dat die munisipaliteit meer gemoeid is met binnegevegte as om resultate te lewer. Hoe meer die speaker uitstel, hoe moeiliker sal dit vir die inwoners word om enige dienste te ontvang.”

Die munisipaliteit bedien onder meer die dorpe Harrismith en Kestell.

Maroela Media het vroeër berig die nasionale tesourie het einde November ʼn finale waarskuwing aan die munisipaliteit gerig om aan wetlike vereistes te voldoen om sy onbefondsde begroting reg te stel.

Indien dit nie gedoen word nie, sal die tesourie sy toekenning weerhou wat aan die begin van Desember betaal moet word. Die munisipaliteit maak staat op hierdie betaling aangesien dit minimale inkomste van verbruikers invorder.

Die minister van finansies het in Oktober verlede jaar beveel dat die munisipaliteit onder nasionale ingryping ingevolge artikel 139(7) van die Grondwet geplaas word weens sy uiters haglike finansiële situasie en gebrek aan behoorlike bestuur. Die Vrystaatse provinsiale uitvoerende komitee het versuim om dit te doen.

Die munisipaliteit se kragrekening is die diepste in die rooi en sy skuld aan Eskom beloop na raming R6,8 miljard.

Lefuma sê die DA sal die munisipaliteit aan die mosie van wantroue herinner en voortgaan om ʼn kragtige en onpartydige toesighoudende rol te speel in belang van goeie bestuur in die munisipaliteit.

“Die DA sal nie toelaat dat die koalisieregering die munisipale raad bestuur soos hulle wil en ten alle koste aan die mag vashou nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.