Droë krane oor Kersfees in Durban

Argieffoto (Foto: 165106 / Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie het die senior bestuur van die eThekwini-munisipaliteit gemaan om nie dié feesgety met vakansie te gaan nie oor die waterkrisis in Durban.

Gebiede soos Phoenix, Verulam, Tongaat, Ntuzuma, Durban-Noord en Umhlanga word hierdeur geraak.

“Sedert die oorstromings van April 2022 het voortgesette wateronderbrekings in dié gebiede buite beheer geraak,” sê Mzamo Billy, die DA se adjunk-koukusleier in die munisipaliteit. “Inwoners en ondernemings is gefrustreerd en word ernstig ontwrig.”

Die DA het ʼn dringende skrywe in die verband aan die burgemeester van Durban, Mxolisi Kaunda, en die voorsitter van die departement van menslike nedersettings en infrastruktuur, Themba Mvubu, gestuur.

“DA-raadslede in talle van die gebiede word oorval deur klagtes van inwoners wat net antwoorde wil hê hoekom hulle krane opgedroog het. Terwyl die DA-raadslede poog om antwoorde te kry van diegene in beheer, het dit baie duidelik geword dat die ANC en EFF nie ʼn plan het om die waterprobleme op te los nie. Hulle sien boonop geen dringendheid om die lyding van inwoners te beëindig nie.”

Billy sê watertenkwaens, wat veronderstel is om water aan inwoners te verskaf, bereik boonop nie al die inwoners wat desperaat is vir water nie.

“Die DA doen ʼn beroep op Kaunda en die EFF se Mvubu om senior waterbeamptes te ontmoedig om met vakansie te gaan terwyl die waterkrisis voortduur. Waterbeamptes en die leierskap van die stad, wat Kaunda en Mvubu insluit, moet eerder onverpoosd werk om water in dié gebiede te herstel. Die DA benadruk sy versoek dat die raad ontbind moet word sodat inwoners vir ʼn nuwe, stabiele en doeltreffende regering kan stem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.