Geloofspronge vir Rudi Muller net hoër

Rudi Muller. (Foto: Facebook/Rudi Muller)

Daar was ongetwyfeld ʼn paar gebeurtenisse in die sanger en liedjieskrywer Rudi Muller se lewe wat hom genoop het om uiteindelik ʼn paar geloofspronge te neem waarvan hy voorheen altyd weggeskram het.

Rudi het in 2019 in Maroela Media se ateljee gesels oor sy album Nuwe Dag.

Vandag, byna vyf jaar later, het baie dinge in Rudi se lewe verander. Hy en sy vrou, Lize, en hulle agtjarige dogter het in 2020, kort ná die Covid-19-inperking van Nigel in Gauteng na die Paarl in die Wes-Kaap verhuis.

Dit was ʼn geloofsprong wat hy en sy vrou geneem het nadat haar werkgewer haar genader het om by die maatskappy se hoofkantoor in die skilderagtige Wes-Kaapse voorstad te gaan werk.

“Voordat ons getrek het, was ons opgewonde oor die skuif, en ons het gereeld gesels oor hoe my dogtertjie se ouma vir ons gaan kom kuier. Ons het op 1 April 2020, reg met die aanvang van die inperking, hier aangekom. My dogtertjie was vier jaar oud, en al daardie kuierplanne was by die deur uit, en dit was vir ons ʼn baie groot aanpassing,” vertel Rudi aan Maroela Media.

“Ek kan my net indink hoe swaar dit is vir mense wat na die buiteland verhuis en om weg te trek van jou mense en kultuur. Die aanpassing moet enorm wees. ʼn Mens vergeet nooit waar jou wortels geplant is nie.”

In 2019, kort voordat hy en sy gesin verhuis het, het hy die besluit geneem om sy sangloopbaan in ʼn ander rigting te stuur met die uitreiking van die gewyde album Nuwe Dag.

Rudi Muller (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Rudi het in die vroeë 2000’s die Afrikaanse musiekbedryf betree met popliedjies soos “Warm Patat” en “My Liefste Mens”.

Rudi bedryf die sakeonderneming Creed & Ark, wat fokus op bemarking, kreatiewe inhoudsvervaardiging, winkeltoerusting, korporatiewe en promosiedrag en korporatiewe geskenke, sagteware, webwerfontwikkeling en digitale bemarking.

Sy musiekloopbaan lê hom egter steeds baie na aan die hart, en hy het onlangs die gewyde enkelsnit “We Rise” uitgereik.

“Die liedjie het ʼn boodskap van hoop, van uit die as uit opstaan met outoriteit, want Jesus is ons rots,” verduidelik Rudi.

“Die liedjie is in Engels sodat elkeen wat daarna luister dit kan verstaan en daarmee kan vereenselwig.”

“We’ll Rise” is uit Rudi se eie pen. Hy glo mense kan by die liedjie aanklank vind omdat dit so ʼn persoonlike liedjie is.

“Alles gaan oor ervaring en persoonlike goed wat ʼn mens deurmaak. Dit is hoekom ʼn mens skryf en musiek is so ʼn magtige platform. Jy skryf maar net altyd in die hoop dat luisteraars die hart van jou skryfwerk sal voel.”

“We’ll Rise” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Hier is die liriekevideo vir “We’ll Rise”:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.