Hoogste hof beslis in guns van vuurwapeneienaars

(Argieffoto: SAPD) 

Enige eienaar van ʼn vorige vuurwapenlisensie mag nou, nadat hulle hul vuurwapen vir veilige bewaring aan die polisie oorhandig het, ʼn nuwe lisensie-aansoek vir daardie vuurwapen indien, aangesien hy of sy die eienaar van die betrokke vuurwapen bly.

Só het die Konstitusionele Hof Vrydag ten gunste van Fidelity Security Services beslis nadat die sekerheidsmaatskappy hom aanvanklik tot die Pretoriase hooggeregshof gewend het om die polisie te dwing om laat aansoeke vir wapenlisensies te aanvaar en die polisie te verhoed om beslag te lê op vuurwapens waarvan die lisensies verstryk het.

Die uitspraak – wat uiteindelik die posisie van ʼn vuurwapeneienaar in besit van ʼn vuurwapen met ʼn vervalde lisensie uiteensit –  word as ʼn waterskeidingsuitspraak bestempel.

Die hoogste hof het Vrydag beslis dat diegene wat nie hul wapenlisensies betyds kon hernu nie en daarna verbied is om ʼn geldige lisensie verder te bekom, voortaan toegelaat moet word om die prosesse te volg soos bepaal in die Wet op Vuurwapenbeheer om ʼn geldige wapenlisensie vir sulke vuurwapens te bekom.

Dié uitspraak is nie net van toepassing op Fidelity nie, maar alle mense wie se wapenlisensies verval het.

Fidelity, een van die grootste veiligheidsmaatskappye in Suid-Afrika en gelisensieer om nagenoeg 8 500 vuurwapens te besit, het in April 2016 probeer om die lisensies van sowat 700 vuurwapens wat weens ʼn administratiewe fout nie betyds hernieu kon word nie, te hernieu. Die aangewese vuurwapenbeampte by die Florida-polisiestasie het geweier om die laat aansoeke te aanvaar.

(Foto: Fidelity Services Group)

Fidelity het hom toe tot die hooggeregshof gewend. Dié hof het bevind die Wet op Vuurwapenbeheer bepaal wesenlik dat dit vereis dat die vuurwapens aan die polisie oorhandig en dan vernietig moet word – en dat dit nie inbreuk maak op Fidelity se grondwetlike regte nie.

Die maatskappye het daarna die appèlhof genader. Daar is bevind daar is niks in die wet óf die regulasies daaroor wat aandui dat iemand wie se lisensie verval het, vir ewig verhoed word om vir ʼn nuwe lisensie aansoek te doen nie.

Om die vuurwapens te vernietig en dan van eienaars te verwag om nuwes te koop om vir ʼn nuwe lisensie aansoek te doen, is nie verstandig nie en maak ook geen sakesin nie, het die appèlhof bevind. Die hof het voorts bevind Fidelity is geregtig daarop om opnuut vir nuwe lisensies aansoek te doen om vuurwapens te besit.

Die minister van polisie, sy eweknie by justisie en die waarnemende nasionale kommissaris van polisie het daarna by die Konstitusionele Hof geappelleer.

Die minister van polisie het hiér sonder sukses aangevoer dat wapens waarvan die lisensies verval het, vernietig mag word sonder om die lisensiehouer die geleentheid te bied om ʼn nuwe aansoek vir lisensiëring en wettige besit in te handig.

AfriForum en Sakeliga het albei die uitspraak verwelkom.

“Ons is verheug oor hierdie nuus en vertrou dat die minister van polisie so gou moontlik voorskrifte sal uitreik en regulasies uitvaardig om uitvoering te gee aan die Konstitusionele Hof se uitspraak,” sê Armand Greyling, regs-en-risikobeampte by AfriForum.

Volgens Greyling is dié burgerregteorganisasie die afgelope paar jaar oorval met navrae en klagtes van vuurwapeneienaars wat weens laat hernuwingsaansoeke en ʼn duidelik verkeerde interpretasie van die wetgewing hul wapens kwyt is.

Dít nadat die polisie beslag gelê het op die vuurwapens en dit daarna vernietig het.

“Dié uitspraak maak dit duidelik dat dié praktyk nou teenstrydig is met die bepalings van die vuurwapenwet,” sê Greyling.

Sakeliga, wat as amicus curiae (vriend van die hof) sy steun agter Fidelity gewerp het, sê die uitspraak is ʼn oorwinning vir wapeneienaars en privaat sekerheidsmaatskappye. “Dit ruim een van die vele burokratiese beletsels op die besit van vuurwapens uit die weg,” sê Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.