Leier van Slangkop-bobbejaantrop van kant gemaak

George jr. het ‘n gesplete lip gehad (Foto: Cape of Goof Hope SPCA)

Die leier van die Slangkop-bobbejaantrop op die Kaapse Skiereiland, George jr., is noodgedwonge van kant gemaak.

Volgens Jaco Pieterse, hoofinspekteur van die Kaap van Goeie Hoop-dierebeskermingsvereniging (DBV), is hulle Woensdag in kennis gestel dat dié 13-jarige bobbejaanmannetjie olik is. Inspekteurs het hom agter Oceanview onder die akasiabome aangetref.

“Die trotse, luidrugtige bobbejaan wat ons die afgelope paar jaar leer ken het, het op sy rug gelê en kon skaars beweeg. Hy het kreungeluidjies gemaak toe hy probeer beweeg het. Hy was ook ver van die res van sy trop. Dit was hartverskeurend,” sê Pieterse.

Die DBV se wildlewe-afdeling is ontbied en bobbejaanveldwagters van NCC Environmental Services het hulle na die toneel vergesel.

“Ons vermoed dat George jr. geskiet is, maar daar was geen uitwendige wonde of bloed nie.”

Inspekteurs het George jr. agter Oceanview onder die akasiabome aangetref (Foto: Cape of Good Hope SPCA)

Pieterse en die DBV se veearts, dr. Stephan Spamer, kon kees kalmeer voor hulle hom op ʼn voertuig gelaai het om na die DBV se hospitaal vir X-strale te neem.

“Op pad na die hospitaal het beurtkrag toegeslaan en ons was genoop om langs ʼn ompad na die naaste veeartskliniek met ʼn kragopwekker te gaan. Die Fourways-dierehospitaal het tot ons redding gekom en ons kon George jr. binne agt minute nadat ons Oceanview verlaat het, op hul X-straaltafel kry.”

Die veeartse aan diens het vinnig gesien dat George jr. se testikels merkbaar geswel was. Daar was egter geen teken van ʼn breuk of voorwerp wat die swelling veroorsaak het nie.

“Die veeartse het bevind dat testikulêre torsie (veroorsaak deur ʼn gedraaide testikel wat bloedtoevoer na die skrotum afsny) heel waarskynlik ons outjie se aftakelende pyn veroorsaak het. Dit is ʼn toestand wat chirurgie vereis, wat beteken dat kastrasie die enigste opsie sou wees.”

Ná die nodige raadpleging is bevind dat kastrasie nie ʼn opsie sou wees nie omdat dit George nie in staat sou stel om as leier van die bobbejaantrop ʼn vreedsame lewe te lei nie; die risiko vir komplikasies was net té hoog.

Daar is toe besluit om George jr. van kant te maak.

Die bobbejaanmannetjie was bekend onder baie huishoudings, wat hy tydens sy jare as alfa-mannetjie besoek het.

“Die Kaapse Skiereiland is armer sonder George jr.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.