Mduduzi Manana, voormalige adjunkminister, se twee medebeskuldigdes is Dinsdag in die Randburg-landdroshof gevonnis.
Die twee mans is gevonnis met ʼn boete van R30 000 betaal of agt maande tronkstraf waarvan die helfte vir vyf jaar opgeskort is.
“Dis ʼn baie ernstige oortreding,” het landdros Saras Naidoo gesê toe sy haar vonnis uitgespreek het.
Cyril Madonsela (35) en Thulani Mdaka (42) het skuld beken op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer nadat hulle Mandisa Duma en Noluthando Mahlaba in Augustus by Cubana-restaurant in Fourways aangerand het.
Naidoo het gesê die twee vroue was nie gewapen nie en hulle was weerloos. Sy het die kliniese bevindings en beserings voorgehou wat Duma en Mahlaba opgedoen het.
Madonsela en Mdaka sal ook woedebestuur-, besluitneming- en middelmisbruikprogramme moet ondergaan as deel van die aanbevelings van ʼn maatskaplike werker.
“Albei is eerste oortreders en toon berou en hulle lewer ʼn betekenisvolle bydrae tot hul families. Direkte tronkstraf sal nie toepaslik wees nie.”
Naidoo het gesê ʼn boete van R3 000 sal te toegeeflik wees en sal nie ʼn behoorlike boodskap uitstuur nie.
Die vonnisoplegging kom een dag ná 16 dae van aktivisme teen vroue- en kindermishandeling hervat het.
Die verdediging vir Madonsela en Mdaka het Maandag landdros Naidoo versoek dat sy ʼn boete van R3 000 moet oplê of drie maande tronkstraf, of ʼn boete van R6 000 met ʼn opgeskorte vonnis.
Manana, voormalige adjunkminister van hoër onderwys, is vroeër gevonnis om ʼn boete van R100 000 te betaal (of tronkstraf vir 12 maande) met 500 uur gemeenskapsdiens nadat hy die vroue aangerand het.
Lees alle vorige berigte oor Mduduzi Manana op Maroela Media.