Ouers verdink dat hulle vierjarige met strykyster aanrand

(Foto: Rusa)

ʼn Ma is in hegtenis geneem op aanklag dat sy en haar man maande lank hul vierjarige dogter ernstig aangerand het.

Beamptes van die Reaction Unit South Africa (Rusa) en die polisie het Donderdag ʼn oproep van inwoners van ʼn informele nedersetting naby Hazelmeredam in KwaZulu-Natal ontvang.

Rusa, Verulam-polisiebeamptes en paramedici het op die oproep gereageer en lede van die gemeenskap het ʼn vierjarige meisie aan hulle oorgegee. Die meisie is ondersoek en sy het verskillende oop wonde aan haar rug gehad. Sy het ʼn tand verloor en het ook verskeie gesig- en liggaambeserings gehad. Sy het ook littekens van wonde wat sy vroeër opgedoen het.

“Die gemeenskap het beamptes in kennis gestel dat haar biologiese ma en pa haar herhaaldelik aangerand het,” het Rusa in ʼn verklaring gesê. “Sy het nooit enige mediese bystand ontvang nie. Dit is nie duidelik of sy die tand verloor het tydens ʼn aanranding nie.”

Die meisie het Woensdagaand teruggekeer huis toe ná sy saam met kinders in die gebied gespeel het. Haar ouers het haar ondervra oor dit wat sy die dag gedoen het en haar weer aangerand. Hulle het haar binnenshuis toegesluit saam met ʼn vyf maande oue tweeling.

“Die meisie het by die bure om hulp aangeklop toe haar ouers Vrydagoggend werk toe is.”

(Foto: Rusa)

ʼn Familielid het na bewering ʼn video van die aanranding op haar selfoon verfilm. Volgens die inligting wys die kort video hoe die meisie met ʼn strykyster aangerand word deur albei haar ouers. Die familielid, wat in besit is van die beeldmateriaal, kon nie dadelik opgespoor word nie.

Polisiebeamptes het die ma in hegtenis geneem en sy word by Verulam-polisiestasie aangehou. Beamptes is ook na die pa se werksplek om hom aan te keer, maar hy kon nie opgespoor word nie.

Albei ouers word deur aanklagte van kindermishandeling en verwaarlosing in die gesig gestaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.