Ses persone is in hegtenis geneem in verband met ʼn transitorooftog Donderdag in Hillbrow, Gauteng, waartydens ʼn polisiebeampte doodgeskiet is.
Kol. Brenda Muridili, woordvoerder van die polisie, het gesê die forensiese ondersoek op die toneel duur voort. “Ses verdagtes is tot dusver in hegtenis geneem. Twee van die verdagtes is tydens die skietery gewond.”
ʼn Groep gewapende mans het omstreeks 13:00 op ʼn stilstaande transitovoertuig begin skiet. Hulle het met ʼn onbekende bedrag kontant van die toneel gevlug. Twee veiligheidswagte en twee omstanders is tydens die aanval en skietery gewond, het Muridili verduidelik.
Die Johannesburgse blitspatrollie, Hillbrow-polisie en Johannesburgse metropolisie het reageer en die wegkomvoertuie agternagesit. “Die verdagtes het op die polisie begin skiet en hulle het teruggeskiet.”
ʼn Lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens is tydens die skietery noodlottig gewond.
“Die polisie het reeds beslag gelê op sewe vuurwapens en drie motors is geskut.”
Die waarnemende nasionale kommissaris, lt.genl. Sindile Mfazi, het die polisiebeamptes geloof vir hul dapperheid. Hy het sy skok uitgespreek oor die afsterwe van die polisiebeampte. Die bestuur van die polisie sal die beampte se familie besoek en hulle ondersteun in hulle tyd van rou.
“Ons wil ook die veiligheidsbeamptes en lede van die gemeenskap, wat beseer is, ʼn spoedige herstel toewens,” het Mfazi bygevoeg.