SA versoek om internasionale skeepvaartbedryf te red

Argieffoto (Foto: jd210848 / Pixabay)

Die Maritieme Kamer van Koophandel (MBC) het die regering versoek om in te gryp by die internasionale skeepvaartbedryf.

“Bedrywighede by die Rooisee-seestraat, wat van kardinale belang is vir wêreldhandel, word bedreig weens Jemenitiese rebelaanvalle in die gebied,” sê Unathi Sonti, uitvoerende voorsitter van die MBC. “Dit is nie net ʼn gevaar vir deurgangskeepvaart nie, maar vir die hele wêreldhandel.”

Sonti sê oliepryse sal onmiddellik geraak word deur ondraaglike stygings, wat voedselpryse sal beïnvloed en sodoende ʼn groter ekonomiese nood aan ‘n reeds sukkelende wêreldwye ekonomie sal toevoeg.

“Suid-Afrika bevind hom in ‘n moeilike situasie, omdat die bunkerskeepsdiens ter see reeds sedert September vanjaar opgeskort is. Dit het gevolg ná die Suid-Afrikaanse Inkomstediens skepe opgehou het wat bunkers buite Algoabaai voorsien. Daar bestaan nou ʼn geleentheid om tot die wêreld se redding te kom.”

Sonti sê Suid-Afrika is geleë langs belangrike internasionale handelsroetes, en die maritieme bedryf speel dus ‘n noodsaaklike rol in die land se ekonomie.

“Met ‘n kuslyn van meer as 3 000 kilometer, het Suid-Afrika toegang tot die Atlantiese en Indiese Oseane, wat ryk geleenthede vir see-aktiwiteite bied. Die Kaapse Roete, ook bekend as die Europese Asië-seeroete, die seeroete na Indië of eenvoudig die Kaapse Roete, is ‘n belangrike waterweg wat strek vanaf die Europese kuslyn van die Noord-Atlantiese Oseaan tot die Asiese kuslyn van die Indiese Oseaan. Die roete sal ‘n lang deurgangsroete wees vir sommige skeepsvaartmaatskappye, wat beteken daar sal inderdaad ‘n hoë aanvraag wees vir mariene bunkerbrandstof in Suid-Afrika.”

Die Suid-Afrikaanse hawestelsel kan egter onder druk geplaas word deur hierdie dienste, wat beter ter see gelewer kan word. Skepe wat brandstof benodig hou boonop sekere risiko’s in, insluitend gevare vir die mariene omgewing. Die MBC glo dat die oplossing daarin lê dat Suid-Afrika in staat is om die mariene brandstofbunkerdiens buite Algoabaai te voorsien. “Die kommersiële hawens is tans nie in ‘n posisie om meer versoeke van skepe te hanteer wat herlei word van die Rooisee wat onder Jemenitiese blokkade is nie.”

Die MBC doen ‘n beroep op die Suid-Afrikaanse regering om die moratorium in Algoabaai onmiddellik op te hef en seker te maak die SAID se vertraging van bunkerskepe word opgeskort. Dit sal die maritieme dienste beskikbaar stel wat nodig is vir skepe wat die langer Kaapse Roete neem terwyl hulle die Rooisee vermy.

“Suid-Afrika moet gehoor gee aan die pleidooi, aangesien dit deel vorm van die humanitêre benadering deur die land. Dit is ook die moeite werd om daarop te let dat daar ‘n positiewe uitvloeisel vir die sukkelende Suid-Afrikaanse ekonomie sal wees.”

Sonti sê die MBC verstaan dat die SAID besig is om ‘n proses van nuwe regulering vir die bunkerbedryf op te stel en só proses word verwelkom, maar intussen moet bedrywighede hervat word. Vyf van die ses grootste skeepsvragmaatskappye soos Maersk, MSC en Hapag Lloyd, het reeds begin om hul skepe te herlei as deel van die 55 skepe wat na Suid-Afrika gestuur word.

“In die tussentyd moet die regeringsreguleerders seker maak dat klein, medium en mikro-ondernemings ‘n integrale deel van hierdie bedrywighede vorm en dat uitbuiting en uitsluiting nie toegelaat word nie. Daar moet ook tussentydse goedkeuring wees vir alle aanvullende bunkerdienste.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.