Tiener by Platteklip-ravyn gered

(Foto: Fredy Mohorich/David Nel)

ʼn Span van Wildernis-soek-en-redding (WSAR) het Vrydagmiddag gou gereageer toe ʼn 17-jarige stapper haar bewussyn verloor het op die Platteklip-ravynroete by Tafelberg.

Die plaaslike gesin het net voor middagete met hul staptog begin op die gewilde staproete. Ná hulle sowat tweederdes van die roete afgelê het, het die 17-jarige meisie olik begin voel en kort daarna flou geval.

Stappers het stilgehou om die gesin by te staan en dadelik WSAR se noodnommer geskakel toe hulle haar nie kon bybring nie.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid se EMS/Air Mercy Service-reddingshelikopter is ontplooi. ʼn Lid van die span is na die bewustelose stapper afgesak.

“ʼn Paramedikus het haar ondersoek en sy is vir bloedsuikertekort behandel,” het David Nel, woordvoerder van WSAR, gesê. “Die jong stapper is op ʼn reddingsdraagbaar gelaai, opgehys na die reddingshelikopter en na ʼn nabygeleë landingsone vervoer.”

ʼn Ambulans van Taurus Medical Film and Sports Medics het haar na ʼn hospitaal geneem. Die operasie is om 15:20 afgehandel.

“Ons verwag dat die warm en droë toestande oor die volgende paar dae gaan voortduur. Ons maan alle natuur-entoesiaste om waaksaam te bly. Begin vroegoggend met jou staptog en moenie deur die warmste ure van die dag stap nie. Dra twee keer soveel water by jou as wat jy dink jy gaan nodig hê. Hou gereeld stil om te rus en onthou om iets te eet. Maak seker jy dra ook gepaste klere – dra ʼn hoed, toe skoene en wend gereeld sonbeskermer aan. Onthou om ook ʼn laag warm klere in te pak indien die weersomstandighede verander.”

Nel maan stappers om op staproetes te bly en seker te maak jy stoor WSAR se noodnommer, 021 937 0300, op jou selfoon.

“Ons wil graag Kaapstad se verkeersbeamptes bedank vir hul bystand en ons wens die jong stapper ʼn spoedige herstel toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.