‘n 17-jarige seun is in hegtenis geneem nadat hy glo ‘n 70-jarige in die Oos-Kaap verkrag het.
“Die vrou het glo op 26 November van ‘n tradisionele seremonie af teruggekeer toe die tiener haar by die Rwantsini-informele nedersetting naby Dutywa aangeval het,” het kaptein Jackson Manatha, woordvoerder van die polisie in die Oos-Kaap, gesê. “Sy is glo deur die verdagte agtervolg voordat hy haar in ‘n oop veldjie aangekeer en haar erg aangerand en verkrag het.”
Die seun is die volgende dag in hegtenis geneem en van verkragting en aanranding aangekla. Manatha sê hulle het hom later in sy ouers se toesig vrygelaat, aangesien hy steeds minderjarig is.
Hy sal na verwagting Maandag in die landdroshof in Dutywa verskyn.