G’n meer haaivinsop op Amerikaanse spyskaarte

Argieffoto

ʼn Nuwe wet in die VSA wat die kommersiële handel van haaivinne en haavinprodukte verbied, is Donderdag amptelik goedgekeur.

Die Amerikaanse senaat het Donderdag in die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers ten gunste daarvan gestem dat die Wet op die Uitskakeling van Haaivinverkope deel word van die Nasionale Verdedigingsmagtigingswet. Dié wet is in 2016 die eerste keer bekendgestel.

“Dit is ʼn groot oorwinning omdat haaie noodsaaklik is vir die see. Die aftakeling van haaie benadeel die mariene omgewing, aangesien hulle ʼn belangrike rol vervul deur ekologiese balans in oseane te handhaaf,” sê die organisasie sonder winsbejag, The Humane Society.

“Haaibevolkings wêreldwyd neem af, sommige met meer as 90%, en haaivinhandel is een van die hoofoorsake.”

Volgens die organisasie word miljoene haaie jaarliks wêreldwyd doodgemaak vir hul vinne om haaivinsop te maak. Die dis word in sommige Asiatiese kulture as ʼn lekkerny en statussimbool beskou.

Die wyse waarop dié vinne verkry word, is egter wreedaardig.

“Die vinne word aan boord van vaartuie op see van lewende haaie afgesny en die verminkte diere word dan in die water teruggegooi om aan bloedverlies, predasie of hongersnood te vrek.”

Hoewel die stroop van haaivinne in Amerikaanse waters verbied word, word die mark vir vinne in Amerika aan die lewe gehou deur vinne in te voer van ander lande wat nie oor sodanige verbod beskik nie.

“Sewentien state en drie Amerikaanse gebiede het die verkoop van haaivinne verbied of beperk, maar die instelling van ʼn federale raamwerk is van kritieke belang aangesien vinne wat in Amerika ingevoer en verkoop word, van bedreigde haaispesies kan kom of van haaie wat vir hul vinne gestroop is.”

Haaie ‘lewend meer werd as bak sop’

Beth Lowell, visepresident van die organisasie Oceana – wat hom beywer vir die beskerming van haaie – sê haaie was op pad na uitwissing omdat hulle in groot getalle vir hul vinne geslag word.

“Dit is ʼn groot oorwinning vir haaie. Hierdie geskiedkundige wetsontwerp verbied die koop en verkoop van haaivinne in Amerika, en sodoende word Amerika van die wêreldwye haaivinhandel verwyder,” sê Lowell.

Sara Amundson, president van Humane Society Legislative Fund, sê haaie is lewend meer werd as in ʼn bak sop.

“Die handel in haaivinne, en handel in wild in die algemeen, het dreigende implikasies nie net vir dierewelsyn en -bewaring nie, maar ook vir internasionale veiligheid, gegewe die korrupte en destabiliserende invloed van die betrokke misdaadnetwerke,” sê Amundson.

“Dit is ʼn monumentale en langverwagte oorwinning vir haaispesies en mariene ekosisteme oor die hele wêreld heen,” het Susan Millward, uitvoerende direkteur van die Dierewelsynsinstituut, gesê.

“Hierdie merkwaardige top-roofdiere bestaan al honderde miljoene jare, maar tog het die wêreldwye vraag na haaivinne bygedra tot die aftakeling van haaibevolkings in net ʼn paar dekades.”

Kitty Block, president en uitvoerende hoof van die Humane Society, sê die oorwinning is die gevolg van byna ʼn dekade lange werkproses om federale wetgewing deur te voer om die VSA se deelname aan haaivinhandel te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.