Hollywood: Nickelodeon-grootkop dagvaar kanaal; nog ʼn Colleen Hoover-roman word fliek

Dan Scheider in 2014 tydens ʼn Nickelodeon-geleentheid. (Foto: Kevin Winter/ Getty Images North America/ AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Nickelodeon-grootkop dagvaar kanaal

Dan Schneider, ʼn voormalige grootkop by die kinderkanaal Nickelodeon, dagvaar Investigation Discovery (ID) oor hoe hy in hul opspraakwekkende dokumentêre reeks Quiet on set: The Dark Side of Kids TV uitgebeeld is.

In die dagvaarding, wat Woensdag 1 Mei in Los Angeles se hooggeregshof ingedien is, beweer Schneider dat die reeks ʼn doodskoot vir sy loopbaan was.

Die reeks is vroeër vanjaar uitgereik en het verskeie donker geheime van die kanaal oopgevlek, en het bewerings van seksuele mishandeling, rassisme en seksisme bevat.

Dit het onder meer op die lappe gekom dat verskeie kinders op Nickelodeon-stelle gebuk gegaan het onder seksuele mishandeling, onder wie Drake Bell, een van die hoofakteurs in die reeks Drake & Josh.

Daar is ook talle bewerings teen Schneider gemaak, wat onder meer insluit dat hy onvanpas teenoor die kinderakteurs opgetree het.

Alhoewel hierdie gebeure na bewering plaasgevind het tydens Schneider se tyd by die kanaal, voer hy in die dagvaarding aan dat “hy geen kennis van die voorvalle gedra het nie”.

“Maar vir klikaas en kykersgetalle – of anders gestel, geld – het die aanklaers Schneider se reputasie en nalatenskap verwoes deur die vals bewerings te maak,” lui die dagvaarding.

In ʼn verklaring het Schneider sy eie “foute” erken tydens sy tyd by Nickelodeon, maar dat hy “geen keuse gehad het om regstappe teen die mense agter die dokumentêr te neem nie”.

“Hulle het verder gegaan as om bloot vals beriggewing te doen en het ook foutiewelik geïmpliseer dat ek betrokke was, of die gruwelike dade, waaraan die regte skuldiges reeds skuldig bevind is, gefasiliteer het.”  

Fliek oor bekende ontslape komediant beplan

ʼn Fliek oor die ontslape 1990’s-komediant Chris Farley sal eersdaags die grootskerm tref.

Josh Gad, wat veral bekend is vir sy rol as Olaf in Frozen, sal die regie van die fliek behartig, terwyl Paul Walter Hauser, bekend vir sy rol in Black Bird, die rol van Chris sal vertolk.

Chris Farley en David Spade in die 1995-fliek “Tommy Boy”. (Foto: Broadway Pictures/Paramount/Collection Christophel/AFP)

Scott Neustadter en Michael H. Weber, wat verantwoordelik was vir onder meer The Disaster Artist en Daisy Jones & The Six, is tans besig om die draaiboek van die fliek te skryf. Dit sal gebaseer wees op Tom Farley Jr. en Tanner Colby se bekroonde biografie The Chris Farley Show: A Biography in Three Acts.

Chris Farley het in 1990 aangesluit by die sketsprogram Saturday Night Live, waarna sy gewildheid omtrent vlamgevat het. Hy was ook te sien in flieks soos Tommy Boy.

Hy het in 1997 in die ouderdom van 33 weens ʼn oordosis gesterf. Die rol van Shrek is kort voor sy dood aan hom gebied, en daar is selfs ʼn paar tonele met Farley in die rol opgeneem. Mike Myers het ná sy afsterwe die ikoniese rol vertolk.

Nóg ʼn Colleen Hoover-roman word fliek

Dit is skaars drie maande voordat It Ends With Us die silwerdoek tref, en nog een van Colleen Hoover se boeke is op pad grootskerm toe.

Verity, wat Hoover in 2018 geskryf en self laat publiseer het, sal na verwagting deur Amazon MGM Studios vervaardig word. Dit is nog nie bekend wie in die fliek te siene gaan wees nie, maar daar word beweer dat Hillary Seitz, skrywer van Insomnia, Eagle Eye en The Unforgivable, aan die projek gekoppel is.

Hoover het reeds in 2022 bevestig dat die fliekregte van die boek verkoop is, hoewel dit nie verseker dat daar wel ʼn fliek van die verhaal gemaak gaan word nie.

“Ek het al baie fliekregte verkoop wat deur die mat geval het omdat vervaardigers nie die projek van die grond af kon kry nie,” het sy met GoodReads gedeel.

“Ek hoop dié een werk uit. Dit sal baie lekker wees om Verity as ʼn fliek te sien.”

Die fliekweergawe van It Ends With Us, Hoover se boek wat in 2016 gepubliseer is, sal op 21 Junie die grootskerm tref. Justin Baldoni, Blake Lively, Brandon Sklenar, Isabela Ferrer en Jenny Slate sal in die fliek te sien wees.

Huise uit ‘Up’, ‘X-Men’ nou vakansiewonings

Diegene wat gek was oor flieks soos X-Men en Up kan binnekort dié flieks in lewende lywe beleef.

Airbnb het onlangs ʼn splinternuwe projek, Icons, begin om ʼn beter oornagervaring aan gaste te kan bied.

Die toerismegroep het onder meer ʼn herehuis in New York omskep in herskepping van die Xavier Institute for Higher Learning, waarmee kykers kennis gemaak het in die fliekreeks X-men.

Hulle het ook Carl se huis in die fliek Up gebou en elke kamer ingerig dat dit presies oor dié bekende animasiehuis lyk. Die huis kan selfs deur ʼn hyskraan opgelig word sodat gaste die werklike Up-ervaring kan beleef.

“Die naam Airbnb is ʼn naamwoord en werkwoord wat reg oor die wêreld gebruik word. Dit is ʼn goeie ding; dit beteken dat almal dit ken,” het Brian Chesky, uitvoerende hoof van Airbnb oor die Icons-projek gesê.

“Die slegte ding is dat ons net met een ding vereenselwig word, en ons wil meer doen. Ons wil nie net plekke om te bly aan mense bied nie, maar ervarings.”

Die Icons-afdeling van Airbnb is vandeesmaand van stapel gestuur en bied verblyfervarings soos Prince se Purple Rain-huis, ʼn aand in die Ferrari-museum in Italië, ʼn private aand saam met Kevin Hart, ʼn aand in die Parys-kunsmuseum Musée d’Orsay en ʼn aand in die Riley-hoofkantoor soos gesien in die fliek Inside Out.

Bykomende bronne: Hollywood Reporter, E! News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.