Nuusmakers van 2019: Internasionale politiek

Nicolas Maduro, president van Venezuela (Foto: Xinhua/Miraflores Press/AVN)

Januarie

Venezuela: parlement benoem teenpresident. Die parlement en die president, Nicolás Maduro, is in ’n magstryd gewikkel. Maduro bestuur die land uiters onbekwaam en rampspoedig met sosialisme as ideologie, maar bly deur middel van verkiesingsbedrog en die weermag aan bewind. Die parlement wys sy voorsitter, Juan Guaidó, as teenpresident aan. Guaidó se regering word deur die VSA en verskeie Europese lande erken en talle mense betoog teen Maduro. Die magstryd tussen die twee duur die hele jaar voort en is nog nie beslis nie.

Maart

Slagting in moskees in Nieu-Seeland. ’n Australiese man met regs-ekstremistiese oortuigings skiet in Nieu-Seeland 51 Moslem-immigrante tydens ’n gebedsessie in twee moskees dood en wond talle ander. Hy neem alles met ’n helmkamera op. Nieu-Seeland, een van die vreedsaamste lande, is diep geskok deur die aanslag.

Vlamme en rook borrel uit die brandende Notre Dame-katedraal in Parys, Frankryk. (Foto: Diana Ayanna, AP)

April

Christelike erfenis brand. ’n Brand breek in die dak van die wêreldberoemde katedraal Notre Dame in Parys uit. Die dak en ’n toring stort inmekaar, maar die grootste deel bly behoue. Vir Christene, Westerlinge en veral Franse is dit ’n groot verlies, maar die bereidheid om geldskenkings vir die herstelwerk te gee is oorweldigend.

Islam-terrorisme. In ’n reeks bomaanvalle op vol kerke, hotelle en ’n behuisingskompleks in Sri Lanka tydens Paasfees word sowat 250 mense, veral Christene, vermoor en talle ander gewond. Die terreurgroep Islamitiese Staat aanvaar verantwoordelikheid. Ook andersins laat veral Islam-terrorisme in 2019 weer ’n wêreldwye bloedspoor. In onstabiele Moslem-lande soos Afghanistan, Somalië, Irak, Nigerië en Mali vind verskeie gruwelike aanslae plaas.

Diktator val. Ná maande lange betogings, aanvanklik oor prysverhogings, later teen die bewind van langtermyn-diktator Omar al-Basjir, dwing die weermag hom om te bedank en plaas hom onder huisarres. Die poging van die weermag om slegs die leier te vervang word egter nie deur die betogers aanvaar nie en die betogings duur voort. In Junie probeer die weermag dit met geweld beëindig in ’n slagting waartydens sowat 100 mense sterf. Die protesoptredes duur egter voort. Die weermag en verteenwoordigers van die betogers kom ooreen om die mag te deel en die land, wat vir dekades deur diktators beheer is, oor ’n lang tydperk na demokrasie te lei. Ook in Algerië word pres. Abdelaziz Bouteflika ná grootskaalse betogings deur die binnekring gedwing om te bedank.

Keiser Naruhito en keiserin Masako. (Foto: AP Photo/Eugene Hoshik

Mei

Nuwe monarge in die Ooste. Ná die abdikasie van keiser Akihito van Japan aan die einde van April word sy seun Naruhito op 1 Mei die nuwe keiser. Akihito was die keiser sedert 1989 en was dus 30 jaar die seremoniële hoof van sy land. Hy het om gesondheidsredes en sy gevorderde ouderdom bedank. Hy word onthou as waardige, beskeie en terughoudende persoon. Naruhito is 59 jaar oud en leef ’n voorbeeldige lewe. Net drie dae later word koning Maha Vajiralongkorn in Thailand amptelik tot koning gekroon. Hy is egter al reeds sedert 2016, ná die dood van sy vader, Bhumibol Adulyadej, die koning. Die kroning kon egter eers ná die lang routydperk van langer as twee jaar plaasvind.

Konflik in die seestraat van Hormuz. Vier kommersiële skepe, waaronder twee olietenkskepe, word beskadig. Die aanduidings is dat dit doelbewuste sabotasie was, en die VSA het bewyse wat op Iran dui. Die konflik duur voort en Iran kaap in Junie ’n Britse skip en skiet ’n Amerikaanse onbemande speurvliegtuig af.

Polisiebeamptes vertoon hul wapens tydens ʼn protesoptog in Hongkong. (Foto: Vincent Yu, AP)

Junie

Betogings in Hongkong. Meer as ’n miljoen mense betoog in die semi-outonome stad Hongkong in Sjina teen hulle streeksregering se planne om mense uit Hongkong aan Sjina te mag uitlewer. Dit is die grootste betoging in Hongkong sedert die aansluiting by Sjina in 1997. Hoewel die wetsvoorstelle onttrek word, duur die betogings die hele jaar voort en sluit ook die wyer kwessie van die behoud van Hongkong se eiesoortigheid en relatiewe vryheid teenoor kommunistiese Sjina in.

Boris Johnson. Foto: (AP Photo/Frank Augstein)

Julie

Nuwe leier vir Brittanje. In Mei vanjaar bedank eerste minister Theresa May, nadat sy ná verskeie pogings geen parlementêre meerderheid vir haar Brexit-ooreenkoms met die Europese Unie (EU) kon kry nie. In ’n tweeledige proses kies die Konserwatiewe Party se koukus en sy lede vir Boris Johnson met duidelike meerderheid as leier, en hy word in Julie deur die Britse koningin as nuwe eerste minister aangewys. Johnson is vol dryfkrag om Brexit af te handel, maar word deur parlementslede van sy eie party in die steek gelaat, verloor verskeie parlementêre stemmings en ook sy reeds dun meerderheid. Uiteindelik kan hy ’n voorlopige ooreenkoms met die EU, asook ’n vervroegde verkiesing in Desember beding. Hy wen die verkiesing met ’n duidelike meerderheid setels en kan nou onbelemmerd voortgaan om Brexit af te handel.

September

Klimaatkonferensies en -optrede. In September vind ’n internasionale konferensie oor die beheer van klimaatverandering in New York plaas (met ’n opvolgkonferensie in Madrid in Desember) en daar is in talle lande betogings en optredes van verskeie omgewingsgroepe, soos die beweging Fridays for Future, om die regerings te dwing om deur wetgewing strenger teenbesoedelingsmaatreëls in te stel. Die 16-jarige Greta Thunberg is die gesig van die beweging en besonder prominent in die media verteenwoordig.

Abu Bakr al-Baghdadi (Foto: Al-Furqan media via AP)

Oktober

Leier van Islamitiese Staat gedood. Die leier van die terreurgroep Islamitiese Staat, Abu Bakr al-Baghdadi, word tydens ’n spesialemagte-operasie van die VSA in Sirië gedood. Hy word vasgekeer in ’n tonnel en blaas homself op.

Nobelprys vir Vrede gaan na Afrika. Die Ethiopiese eerste minister, Abiy Ahmed, ontvang die Nobelprys vir Vrede vir sy rol om vrede met die buurland Eritrea te beding en om in sy eie land ’n proses van demokratisering te begin.

Pres. Donald Trump. Foto: (AP Photo/Alex Brandon)

Desember

Vervolging van pres. Donald Trump begin. Die Demokratiese meerderheid in die Huis van Verteenwoordigers begin met ’n proses om pres. Donald Trump van sy amp te onthef op grond van beweerde politieke beïnvloeding van ’n buitelandse leier. Trump sou aan die nuwe Oekraïniese president ekonomiese hulp in ruil vir die vervolging van die seun van Demokratiese presidentskandidaat Joe Biden weens korrupsie belowe het. Die kanse dat die proses enduit gevoer word, is skraal omdat die senaat deur die Republikeine beheer word.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.