Hierdie pragtige happie sal jou vriende beïndruk tydens teetyd en dit is nie eens moeilik om te maak nie.
Lewer ± 25 petit fours
Bestanddele:
Sponskoek
- 4 ekstragroot eiers
- 125 ml strooisuiker
- 250 ml koekmeel, gesif
- knippie sout
- 90 ml botter, gesmelt
Versiersel
- 125 ml appelkooskonfyt
- klein stukkie amandelversiersel (marsepein)
- 500 ml versiersuiker
- 10 ml warm water
- voedselkleursel in gekose kleure
Metode:
- Voorverhit oond tot 180 °C en voer ‘n vierkantige 20 cm x 20 cm-koekpan met bakpapier.
- Sponskoek: Klits die eiers en strooisuiker in geskikte glasmengbak tot gemeng.
- Plaas die mengbak oor ‘n kastrol met kookwater en klits met ‘n elektriese klitser tot liggeel, ongeveer 5 minute.
- Haal die mengbak van die kookwater af en vou die meel, sout en botter beurtelings by die eiermengsel in.
- Skep die beslag in die koekpan en bak 25 minute of tot toetspen skoon
- Keer die koek uit, trek die bakpapier af en laat dit op ‘n rakkie afkoel.
- Versiersel: Sny die koek se kante gelyk. Sny die koek horisontaal in die helfte en smeer een helfte met appelkooskonfyt. Plaas die lae koek weer op mekaar. Sny dit in 3,5 cm-stroke en dan in 3,5 cm-blokkies. Smeer nog appelkooskonfyt bo-op elke koekblokkie.
- Rol die marsepein tot ongeveer 3 mm dik uit. Sny dit ook in 3,5 cm-blokkies en plaas bo-op die koekblokkies.
- Meng die versiersuiker en water en kleur met ‘n bietjie voedselkleursel.
- Plaas die Petit fours op ‘n draadrakkie en skep die versiersel bo-oor.
Bron: Lekker en Vinnig – Teetydlekkernye
Uitgewer: Lapa
Resep oorspronklik gepubliseer in 50 Beste gebak uit Vrouekeur deur Marlo Carstens.
Dit lyk nou lekker!