Alcaraz – die kroonprins van klei

Carlos Alcaraz het die Madrid-ope gewen. (Foto: Twitter/ATP)

Nadat Carlos Alcaraz aanvanklik ʼn bietjie gesukkel het om ʼn titel suksesvol te verdedig, het hy dié prestasie nou sommer twee keer op ʼn streep vermag.

Die jong Spanjaard het Sondag die Madrid-ope vir die tweede keer gewen toe hy vir Jan-Lennard Struff met 6-4, 3-6 en 6-3 geklop het.

Alcaraz en Rafael Nadal is nou die enigste twee spelers wat hul titels in die Spaanse hoofstad suksesvol kon verdedig.

En volgens die amptelike ATP-webblad sal Alcaraz weer die voorste speler ter wêreld wees wanneer die Italiaanse Ope in Rome begin.

“Dit is baie spesiaal om die trofee hier in Madrid omhoog te hou. Dit is in my land. Dit is ongelooflik om hier voor my vriende en familie te speel en ek sal dit waarskynlik nooit vergeet nie,” het die kampioen gesê.

Struff speel egter deesdae goeie tennis, terwyl Alcaraz aanvanklik met sy afslaanwerk gesukkel het.

“Dit was beslis ʼn taai tweestryd. Jan speel aggressiewe tennis en ek het veral in die tweede stel klei getrap. Ek het myself moed ingepraat en ek het geweet dat daar geleenthede sou wees om wenhoue te slaan. Ek moet dit net benut.”

Dit is sy vierde titel van die jaar nadat hy ook vroeër met die louere in Buenos Aires, Kalifornië en Barcelona weggestap het.

Die kwalifiserende rondes vir die Italiaanse Ope is reeds onderweg en Alcaraz behoort ook onder die gunstelingspelers te tel om in Rome die septer te swaai.

Veral weer in Nadal se afwesigheid.

Die “koning van klei” het aangedui dat hy nog nie voldoende van sy heupbesering herstel het nie.

“Dit gaan tyd neem om by dinge aan te pas en ek het geen ander keuse as om dit te aanvaar en aan te hou werk nie. Dit maak baie seer om nog ʼn toernooi mis te loop wat al ʼn beduidende invloed op my loopbaan gehad het,” het Nadal gesê.

Die 36-jarige Spanjaard was vanjaar nog net in vier wedstryde in aksie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.