Anderson uit Australiese Ope

Kevin Anderson. Foto: AP Photo/Michel Euler

Waar Kevin Anderson goed in die eerste ronde van die Australiese Ope in Melbourne teen lya Ivashka terugbaklei het, het hy vandag ’n goeie voorsprong teen die Amerikaner Taylor Fritz weggegooi.

Die 33-jarige Anderson het ’n gemaklike voorsprong-kussing van twee stelle opgebou, maar Fritz het die derde, vierde én vyfde stel gewen om die kragmeting uiteindelik met 4-6, 6-7, 7-6, 6-2 en 6-2 te wen.

Waar afslane normaalweg Anderson se sterk punt is, was dit vandag ná die tweede stel sy Achilleshiel.

Teen die einde van die wedstryd was die wenpresentasie van sy tweede afslane slegs 39%. En terwyl hy meer wenhoue as die 22-jarige Fritz geslaan het – 65 teenoor 55 – was dit die ongedwonge foute wat hom gekniehalter het.

Anderson het 54 ongedwonge foute begaan, twee keer meer as wat Fritz in die wedstryd van drie uur gemaak het.

  • Intussen het Spanje se Rafael Nadal maklik met Argentinië se Federico Delbonis afgereken. Die telling was 6-3,7-6 en 6-1 in die Spanjaard se guns.

Switserland se Stan Wawrinka moes egter harde bene kou om Italië se Andreas Seppi te klop. Die telling was uiteindelik 4-6, 7-5, 6-3, 3-6 en 6-4 in Wawrinka se guns.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.