Seer heup hou Rafa uit Monte Carlo

Rafael Nadal van Spanje. (Foto: AP Photo/Christophe Ena)

Rafael Nadal se seer heup – ʼn besering wat hom al sedert die Australiese Ope kniehalter – het ook ʼn stokkie voor sy deelname aan die Monte Carlo-Meesterstoernooi gesteek.

“Ek is nog steeds nie gereed om op die hoogste vlak van die sport mee te ding nie.  Ek sal dus nie aan een van die belangrikste toernooie van my loopbaan kan deelneem nie,” het die Spanjaard op sosiale media gesê.

Nadal het al 11 keer met die louere in Monte Carlo weggestap en dit dien as die perfekte littelosmaker vir sy geliefde Franse Ope in Parys.

Die aanvanklike diagnose het getoon dat die 36-jarige speler moontlik net vir ses weke langs die kantlyn sou wees.

“Ek het nog geen sekerheid [dat die besering hom nie weer gaan kortwiek nie] en sal met my voorbereidingswerk voortgaan. Ek hoop om gou weer terug op die baan te wees.”

Dan sal Carlos Alcaraz ook nie in Monte Carlo afslaan nie.

Volgens die wêreld se naasbeste speler het hy fisiek in sy laaste wedstryd – teen Jannik Sinner in Miami – gesukkel.

“Ek sal Monte Carlo en die aanloop tot die kleibaanseisoen misloop. Ek sukkel met artritis in my linkerhand, terwyl ek ook moet rus om die spierongemak in my rug te behandel,” het Alcaraz getwiet.

Die 19-jarige speler is onlangs deur Novak Djokovic op die ATP-ranglys onttroon nadat hy nie sy titel in Miami kon verdedig nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.