Tatjana, Lara kan water in teenstanders se oë skop

Tatjana Schoenmaker. (Foto: Ben Stansall/AFP.)

Hulle is jonk, talentvol en deksels vinnig in ʼn swembad.

Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk sal Suid-Afrika se swemaanslag by die Wêreldkampioenskap in Foekoeoka lei.

Vir Schoenmaker is dit ʼn welkome terugkeer na die land waar sy in 2021 Olimpiese sukses gesmaak het. Die 26-jarige swemmer het toe goud en silwer in haar borsslagitems losgeswem, terwyl ʼn wêreldrekordtyd ook op die spyskaart was.

Sy sal die Wêreldkampioenskap wil gebruik om momentum vir die volgende Olimpiese skouspel in Parys op te bou – Julie 2024 kruip al vinniger nader.

“Dit is ongetwyfeld ʼn wegspringblok op pad na die Spele en dit is ʼn wonderlike geleentheid om teen swemmers kragte te meet wat ook in Parys te siene sal wees,” het Schoenmaker gesê.

Sy het egter bygevoeg dat sukses – óf teleurstelling – in Japan nie noodwendig ʼn soortgelyke uitslag in Frankryk sal beteken nie.

“As sport is dit swem se grootste kampioenskap, maar ons wil onsself nie onder te veel druk plaas nie. Ons wil net resies in die water jaag en ek is opgewonde om deel van die aksie te wees!”

Lara van Niekerk is goud werd. (Foto: Andy Buchanan / AFP)

Op haar beurt sal Van Niekerk weer haar stempel op die internasionale verhoog wil afdruk; die 20-jarige Pretorianer weet immers presies hoe om dit te doen.

Sy het in 2022 Suid-Afrika se enigste medalje (brons in die 50 m-borsslagitem) by die Wêreldkampioenskap in Boedapest ingeoes, terwyl haar pogings by die Statebondspele in Birmingham twee goue medaljes werd was.

“Verlede jaar se uitslae het ongetwyfeld vir my gewys waartoe ek in staat is en dit maak my selfs meer opgewonde om weer met die voorste swemmers skouers te skuur,” het Van Niekerk gesê.

Hoewel die senuwees nog vóór ʼn groot byeenkoms knaag, glo sy dat ervaring beslis ʼn helpende hand verleen.

“Ek is nou meer daaraan gewoond om teen topswemmers te swem. Ek het ook al goeie vriendinne gemaak en dit maak die sessies sommer baie meer pret.”

Ja-nee, van Penny Heyns na Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk: Suid-Afrika se swemaflosstokkie is ongetwyfeld in bekwame hande.

Die swemkampioenskap begin Sondag.

Suid-Afrika se swemspan na Japan: Aimee Canny, Emma Chelius, Milla Drakopoulos, Trinity Hearne, Michael Houlie, Clayton Jimmie, Rebecca Meder, Righardt Muller, Roland Schoeman, Tatjana Schoenmaker en Lara van Niekerk.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.