Amerikaners maai onder internasionale gholfspan

Lag-lag na ‘n voorsprong. Die Amerikaners Jordan Spieth en Justin Thomas deel ‘n ligter oomblik by die Presidentebeker-toernooi in Charlotte, Noord-Carolina. (Foto: Warren Little/Getty/AFP)

Die bloed drup en die internasionale span se rug is teen die muur ná die eerste dag van die Presidentebeker-toernooi in Charlotte in Noord-Carolina.

Soos voorspel, was die magtige Amerikaanse span die vinnigste uit die blokke en het hulle in die een wedstryd ná die ander hul teenstanders platgevee om ’n stewige voorsprong van 4-1 op te bou.

Die enigste troepe van Trevor Immelman wat op hul voete kon bly staan en uiteindelik suksesvol was, was die Suid-Koreaan Si Woo Kim en die Aussie Cam Davis. Hulle het Scottie Scheffler en Sam Burns met 2 voor verslaan.

Beurtspelle – waartydens die spelers die bal om die beurt slaan tot die balletjie in die blikkie is – is nie die maklikste formaat van gholf nie en die internasionale gholfspan het glad nie tuis op die moeilike Quil Hollow-baan gelyk nie.

Veral die span se eerste paar houe, deur die gesoute Adam Scott en Hideki Matsuyama, kon glad nie hond haaraf maak teen Patrick Cantlay en Xander Schauffele nie.

Maar dit was nie net die Amerikaners se goeie spel wat Scott en Matsuyama onder druk geplaas het nie. Veral Scott kon nie die skoonvelde met sy bofhoue vind nie en die veteraan-Aussie se setwerk het herinner aan ’n beginner.

Dit het Matsuyama onder nog groter druk geplaas en uiteindelik het die betroubare Japannees ook talle slegte houe geslaan wat die deur vir die Amerikaners oopgelaat het om die kragmeting op ’n drafstap met 6 en 5 te beklink.

Die hele internasionale span het op die setperke gesukkel. Dit is onverklaarbaar aangesien etlike van hulle onder die wêreld se voorste op die kort grassies gereken word.

Al rede vir die spelers se swak spel op die setperke kan moontlik die grein van die Bermuda-gras wees. Dit laat die balletjie heelwat meer draai en kan spelers uitvang as hulle nie daaraan gewoond is nie.

Tog speel al die spelers genoeg op Bermuda-gras om dit te weet.

Die druk was waarskynlik eenvoudig te veel vir Immelman se internasionale sterre wat nie heeltemal vertroud is met gholf in spanverband nie.

Hopelik is die vlinders ná die eerste dag uit die maag en verloop dinge vorentoe meer vlot in hul strewe om die Yanks te troef, of ten minste te laat sweet vir ’n sege.

Donderdag se uitslae (VSA eerste):

Patrick Cantlay en Xander Schauffele k. Adam Scott en Hideki Matsuyama 6 en 5.

Jordan Spieth en Justin Thomas k. Sungjae Im en Corey Conners 2 en 1.

Cameron Young en Collin Morikawa k. Tom Kim en KH Lee 2 en 1.

Scottie Scheffler en Sam Burns v. Si Woo Kim en Cam Davis 2 agter.

Tony Finau en Max Homa k. Taylor Pendrith en Mito Pereira 1 voor.

Vrydag se afslaantye:

17:35: Jordan Spieth en Justin Thomas t. Adam Scott en Cam Davis.

17:50: Scottie Scheffler en Sam Burns t. Sungjae Im en Sebastian Monuz.

18:05: Kevin Kirsner en Cameron Young t. Mito Pereira en Christiaan Bezuidenhout.

18:20: Patrick Cantlay en Xander Schauffele t. Hideki Matsuyama en Tom Kim.

18:35: Billy Horschel en Max Homa t. Corey Conners en Taylor Pendrith.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.