Ernie, Christiaan, Louis en Ashleigh laat SA vlag wapper

Suid-Afrika se Ashleigh Buhai vroeër in aksie. (Foto: Saeed Khan/AFP)

Die gholfsterre Ernie Els, Christiaan Bezuidenhout, Louis de Jager en Ashleigh Buhai het Donderdag die Suid-Afrikaanse vlag behoorlik laat wapper met puik vertonings wêreldwyd.

Die 54-jarige Els is in Ka’upulehu-Kona in Hawaii slegs een hou agter die voorlopers ná die eerste ronde van die Mitsubishi Electric-kampioenskap.

Els het sy eerste dag op die Hualalai-baan in 66 houe (-6) voltooi en beklee die gesamentlike derde posisie in die Amerikaanse reeks vir seniors se eerste toernooi van die nuwe gholfjaar.

Die viermalige Majorkampioen het oor die eerste nege drie voëltjies aangeteken en oor die tweede nege nog vier, maar ongelukkig ook een brouhou.

Els deel die derde posisie met KJ Choi, Brett Quigley en Steve Stricker, verlede jaar se kampioen.

Afgesien van sy sege in Hawaii het Stricker verlede jaar nog vyf ander toernooi-oorwinnings behaal.

Els-hulle jaag die Fidjiaan Vijay Singh en Nieu-Seeland se Stephen Alker, wat op -7 die pas aangee ná die eerste van vier rondes.

*In La Quinta in Kalifornië het Bezuidenhout een van sy beste vertonings nog in die Amerikaanse PGA-reeks gelewer toe hy ʼn telling van 63 (-9) in die eerste ronde van die American Express-kampioenskap aangeteken het.

Dit was egter net goed genoeg vir die gesamentlike derde posisie nadat die Amerikaner Zach Johnson en die Sweed Alex Noren die PGA West-baan aan die brand gespeel het met tellings van 62 (-10).

Bezuidenhout se vertoning was foutloos gewees en die 29-jarige boorling van Delmas het nege voëltjies op die eerste dag aangeteken sonder om ʼn hou aan syfer af te staan. Die veelmalige wenner op die Sonskynreeks het einde verlede jaar sy eerste kind verwelkom en sy verskyning vandeesweek in Kalifornië is sy terugkeer na mededingende gholf.

Die twee ander Suid-Afrikaanse spelers in La Quinta, Erik van Rooyen (-6) en Garrick Higgo (-3), kan nie té ongelukkig voel oor hul vertonings nie, al is hulle ver agter die voorlopers.

*In die Verenigde Arabiese Emirate het De Jager die eerste dag van die Dubai Desert Classic slegs ʼn enkele hou agter die voorlopers afgesluit. Sy vertoning by die Emirates-klub was foutloos.

Die 36-jarige boorling van Duiwelskloof (deesdae bekend as Modjadjiskloof) naby Tzaneen het met ʼn voëltjie by die eerste putjie afgeskop waarna hy 11 agtereenvolgende syfers aangeteken het.

Die agtmalige toernooiwenner wat deesdae in Centurion woon, het egter stewig geëindig met voëltjies by die 13de, 14de en 18de putjies vir ʼn telling van 68 (-4).

Vier spelers, die Amerikaner Cameron Young, die Engelsman Andy Sullivan, die Deen Rasmus Hojgaard en die 2018-kampioen Li Haotong van China gee op 67 (-5) die pas aan.

Young het sy dag op skitterende wyse afgesluit toe hy by die 18de ʼn sethou van sowat 20 m vir ʼn arend drie ingerol het om die dag saam boaan die voorlopersbord af te sluit.

Haotong het verlede jaar ʼn nagmerrie-seisoen beleef, maar ʼn nuwe stel stokke en ʼn nuwe swaai het goeie resultate opgelewer en hoop vir ʼn blink seisoen laat opflikker vir die man wat ses jaar terug vir Rory McIlroy met een hou na die Dubai-kroon gesteek het.

McIlroy, die verdedigende kampioen, het soos ʼn man op ʼn missie weggespring en oor die eerste nege putjies vier voëltjies aangeteken.

Oor die tweede nege het die wêreld se naasbeste speler egter woema verloor en brouhoue by die sesde, sewende en agtste putjies het sy aanslag om sy titel suksesvol te verdedig in sy spore gestuit en die Noord-Ier het vir ʼn telling van 71 (-1) geteken.

Twee Suid-Afrikaners, MJ Daffue en Hennie du Plessis, beklee saam met McIlroy die 27ste posisie nadat hulle ook die baansyfer van 72 met een hou oortref het.

Casey Jarvis (72) en Jayden Schaper (73) sou vooraf op beter vertonings gehoop het, terwyl Thriston Lawrence moeg gelyk en ʼn teleurstellende 75 gespeel het.

Ockie Strydom (75) het soos Lawrence ʼn gewigtige taak op hande om Vrydag se afsnymerk te oorleef.

*In Orlando in Florida het die 36-jarige Buhai op die Lake Nona-baan ʼn stewige vertoning gelewer deur die eerste ronde van die LPGA-reeks se Toernooi van Kampioene in 69 houe (-3) te voltooi.

Buhai het haar 2023-seisoen op ʼn hoogtepunt afgesluit met ʼn oorwinning die eerste week in Desember in die Australiese Ope.

Donderdag het sy voortgebou op dié sprankelvertoning en oor haar eerste nege vier voëltjies aangeteken om onder die voorlopers te tel. Die Johannesburger het egter oor haar tweede nege uitgesak ná haar eerste nege van 32 houe.

Buhai, wat die eerste ronde by die tiende putjie begin het, was ná 13 putjies op -5 slegs een hou agter die voorloper, maar twee verlore houe op die baan se sewende en agtste putjies het ongelukkig haar dag bederf en sy het teruggesak na die gesamentlike sesde posisie.

Die ander Suid-Afrikaanse vroue-ster in die uitgelese veld van 35 toernooiwenners, Paula Reto, dek ongelukkig die agterhoede.

Reto het die toernooi met twee agtereenvolgende brouhoue begin en dinge wou daarna net nie verbeter nie. ʼn Dubbele brouhou by Reto se voorlaaste putjie sou ʼn wrang smaak in die Kanadese Ope-kampioen van 2022 se mond gelaat het; sy hoop op ʼn veel beter seisoen as verlede jaar.

Reto het in die afgelope 12 maande meer as 100 posisies op die wêreldranglys teruggesak en sukkel om weer haar beste spelpeil te bereik. Sy het Donderdag net tien van die 18 setperke in regulasie raakgeslaan en 30 sethoue nodig gehad.

Ayaka Furue van Japan (65) is op -7 die voorloper, gevolg deur Gaby Lopez van Mexiko en Maya Stark van Swede op -5.

Lopez was agterna verras met haar eie vertoning, aangesien sy byna niks gholf sedert einde November verlede jaar gespeel het nie. Sy het in die middel van Desember getrou voor meer as 500 gaste waarna sy na Tanzanië vir ʼn safari gereis en daarna ʼn bootvaart op die Nylrivier onderneem het. Tot die begin van hierdie week was gholf waarskynlik glad nie in haar gedagtes nie.

  • Bykomende inligting: PGA Tour, DP World Tour, LPGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.