Gholf: Fleetwood voor, maar Lombard en Lawrence steeds in wedloop

Zander Lombard in aksie. (Foto: Twitter/ Zander Lombard)

Suid-Afrika se Zander Lombard en Thriston Lawrence het Saterdag albei 67 houe in die derde ronde van die Dubai-uitnodigingstoernooi aangeteken om hul aanslag op die eerste titel in vanjaar se Dubai World Tour (Europese reeks) te behou.

Lombard en Lawrence het saam met Jordan Smith van Engeland op 202 houe (-11) in die klubhuis by die Dubai Creek-baan afgesluit en is net vier houe agter die voorloper, Tommy Fleetwood van Engeland, wat op 198 houe (-15) geëindig het.

Fleetwood, wat drie houe agter die Noord-Ier Rory McIlroy afgeslaan het, het 63 houe in die derde ronde aangeteken en is een hou voor McIlroy (199, -14) met die Deen Thorbjorn Olesen derde op 201 (-12).

Van die ander Suid-Afrikaners het Hennie du Plessis en Ockie Strydom albei op 212 (-1) afgesluit en is hulle saam in die 29ste posisie.

Lombard het ses voëltjies in die derde ronde aangeteken, maar op die 7de en 14de putjies houe aan baansyfer afgestaan om sy telkaart te bederf. Hy het tot dusver 17 voëltjies oor 54 putjies aangeteken, maar ook op ses putjies houe aan syfer afgestaan.

Lawrence se derde ronde het vyf voëltjies ingesluit en hy was op pad om Fleetwood en McIlroy in te haal voordat hy op die 18de putjie ʼn hou aan syfer afgestaan het.

Fleetwood speel baie bestendig en het nie een hou aan syfer in sy derde ronde van 63 houe (-8) afgestaan nie. Sy ronde het agt voëltjies ingesluit.

McIlroy, wat reeds 19 voëltjies oor 54 putjies aangeteken het, het Saterdag vyf voëltjies ingeryg, maar op die 5de putjie ʼn hou aan syfer afgestaan.

* In die Sony-Ope wat by die Waialae-buiteklub in Hawaii beslis word en deel is van die Amerikaanse PGA-reeks, loop twee Amerikaners Grayson Murray en Keegan Bradley (albei 196, -14) met een hou voor hul landgenoot Samuel Stevens (197, -13).

Murray het 64 houe in die derde ronde aangeteken en Bradley 63.

Die 30-jarige Murray was een van Amerika se beste amateurs voordat hy in 2013 ʼn beroepspeler geword het.

Hy het reeds ses beroepstoernooie gewen, maar sy loopbaan was in 2022 byna tot ʼn einde toe hy in Bermuda ʼn ongeluk met sy bromponie gemaak het en ernstige beserings opgedoen het.

Taiga Semikawa van Japan, Benjamin Silverman (Kanada), Matthieu Pavon (Frankryk), Byeong-Hun Am (Suid-Korea) en Chris Kirk (Amerika) is almal saam op 199 (-11) in die vierde posisie, gevolg deur die Amerikaners Troy Merritt, Austin Eckroat en Kurt Kitayama asook Emiliano Grillo (Argentinië) saam negende op 200 (-10).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen (204, -6) bly stewig in die saal, maar Garrick Higgo (214, +4) het uitgesak en is in die laaste plek nadat hy 76 houe in die derde ronde aangeteken het.

Bron: The Golf Channel

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.