Gholf: Morikawa rooiwarm in Hawaii

Collin Morikawa is in Kapalua, Hawaii, in die Sentry-toernooi van kampioene met ses houe voor ná die derde ronde van die eerste toernooi van vanjaar se Amerikaanse PGA-reeks. (Foto: Harry How / AFP)

Die tweemalige Major-wenner Collin Morikawa was aan die einde van verlede jaar raadop nadat hy in 2022 nie ʼn gholftoernooi kon wen nie.

Die 25-jarige Amerikaner, wat in 2020 die Amerikaanse PGA gewen het en in 2021 die Amerikaanse Ope, het die sethou-afrigter Stephen Sweeney se dienste bekom en dit het reeds vrugte afgewerp.

Sweeney het nie enige groot verandering aan Morikawa se setwerk aangebring nie, maar hom slegs aangemoedig om te konsentreer op wat hy doen.

Morikawa is in Kapalua, Hawaii, in die Sentry-toernooi van kampioene met ses houe voor ná die derde ronde van die eerste toernooi van vanjaar se Amerikaanse PGA-reeks.

Op 195 is hy 24 houe onder die baansyfer en het oor 54 putjies nog nie ʼn hou aan baansyfer afgestaan nie. Hy het tellings van 64, 66 en 65 op sy telkaart ingevul.

Hy het ses voëltjies en ʼn arend in die derde ronde aangeteken en spog reeds met 22 voëltjies en ’n arend in die eerste drie rondes.

Morikawa word op 201 (-18) gevolg deur die Engelsman Matt Fitzpatrick en Scottie Scheffler en JJ Spaun (albei van Amerika) met Tom Kim van Korea en die Spanjaard Jon Rahm albei op 202 (-17).

Max Homa van Amerika, wat 63 houe in die derde ronde aangeteken het, en Sungjae Im van Korea is saam op 203.

Morikawa is op die drumpel van sukses, want nog net sewe spelers het in die lang geskiedenis van die PGA ʼn voorsprong van ses houe in die laaste ronde ingeboet.

Morikawa weet presies wat dit behels, want in 2017 in die HSBC-toernooi van kampioene in Sjanghai was Dustin Johnson (Amerika) die laaste speler wat só ʼn groot voorsprong ingeboet het.

En Morikawa? Hy was in 2021 in die Hero World Challenge met vyf houe voor ná drie rondes, maar nadat hy 74 houe in die laaste ronde aangeteken het, het hy vyfde geëindig.

Dis hoekom Morikawa onrustig sal slaap, hoewel hy aan die Golf Channel gesê het dat hy dit reeds in sy agterkop weggebêre het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.