Gholf: Reën saai chaos in Dubai

(Foto: Dubai | دبي/Twitter)

Dit reën byna nooit in ’n woestyn nie, maar as dit die dag reën, is daar algemene chaos.

Dit het die afgelope twee dae in Dubai gebeur toe die Dubai Desert Classic-gholftoernooi ontwrig is nadat die sluise geopen het.

Donderdag se eerste ronde is deur reën ontwrig en nie al die spelers kon ook Vrydag hul eerste rondes voltooi nie voordat swak lig ingetree het.

Die tweede ronde sal Saterdagoggend gespeel word en die derde ronde sal Sondag beslis word voordat die laaste ronde na Maandag uitgeskuif word.

Die omstrede Engelsman Ian Poulter, wat in die LIV-reeks speel, en die Sweedse amateur Ludvig Aaberg was saam voor op 65 houe (-7). Hulle is gevolg deur Rory McIIroy (Noord-Ierland), Patrick Reed (Amerika), Angel Hidalgo (Spanje) en Suid-Afrika se Louis de Jager, wat almal op 66 houe (-6) was.

Van die ander Suid-Afrikaners het Oliver Bekker en Hennie du Plessis (albei 68), Jacques Kruiswijk (69), Justin Harding (70) en Thriston Lawrence (70), Shaun Norris (71), Ockie Strydom (72), Zander Lombard (73) en JC Ritchie (78) ook hul rondes voltooi.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Farmers Insurance-toernooi wat by Torrey Pines in San Diego, Kalifornië, beslis word, loop Sam Ryder met 204 houe (-12) met twee houe voor Jon Rahm van Spanje (206, -10) ná die derde ronde.

Rahm word op 208 gevolg deur die Amerikaner Tony Finau met nog drie Amerikaners Collin Morikawa, Sahith Theegala en Max Homa en Sung-Jae Im (Korea) saam op 209 (-7).

Suid-Afrika se Dean Burmester is op 213 (-3), Garrick Higgo op 214 (-2) en Dylan Frittelli op 216 (gelyk aan baansyfer).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.