SA se Potgieter maak gholfgeskiedenis

Aldrich Potgieter het sy naam in die annale van die spel verewig toe hy op 19 jaar, vier maande en 11 dae die jongste wenner nóg in die Amerikaanse Korn Ferry-reeks geword het. (Foto: Sunshine Tour/X)

Gholf se rekordboeke is vir ʼn tweede keer binne ʼn week herskryf.

Dié keer was dit die Suid-Afrikaner Aldrich Potgieter wat sy naam in die annale van die spel verewig het.

Potgieter het op 19 jaar, vier maande en 11 dae die jongste wenner nóg in die Amerikaanse Korn Ferry-reeks geword met sy sege Woensdag in die Greater Abaco Classic in die Bahamas.

Die vorige jongste kampioen was die Australiese Majorkampioen Jason Day, wat in 2007 19 jaar, sewe maande en 26 dae oud was toe hy die Legend Financial Group Classic gewen het.

“Ek het dit geensins verwag nie en net probeer om so goed moontlik te vaar,” het die boorling van Mosselbaai gesê nadat hy met ʼn telling van 278 (-10) met twee houe geseëvier het.

Die Britse amateur-kampioen van 2022 het die laaste ronde met ʼn agterstand van vyf houe begin.

ʼn Puik 65 (-7) op die laaste dag, wat vier voëltjies oor die laaste ses putjies ingesluit het, het die jong Suid-Afrikaanse ster egter sy eerste beroepsoorwinning besorg.

“Dis ongelooflik, maar gaan nie veel aan my lewe verander nie. My doelwit is om in die PGA-reeks te speel en daar lê baie harde werk voor om dít reg te kry,” het Potgieter gesê nadat hy $180 000 (sowat R3,4 miljoen) in sy sak gesteek het vir sy eerste titel as beroepspeler.

Die Korn Ferry-reeks waaraan Potgieter tans deelneem, is die voerderreeks van die PGA-reeks.

Potgieter kon nie einde verlede jaar in die PGA-reeks se kwalifiserende toernooi ʼn spelerskaart vir die gesogte reeks beklink nie, maar het speelregte vir die Korn Ferry-reeks gekry deurdat hy onder die top 100 geëindig het.

Potgieter het hom in Junie verlede jaar by die geldgeledere aangesluit ná ʼn suksesvolle amateur-loopbaan.

Afgesien van die Britse amateur-titel het Potgieter in 2023 ook die Afrika-amateur-houespelkroon ingeoes.

Die Mosselbaaise ster was deel van Louis Oosthuizen se akademie voordat hy sy drome in die VSA gaan najaag het.

*Die Yank Nick Dunlap het voor Potgieter Sondag die rekordboeke herskryf met sy sege in Kalifornië in die American Express-toernooi. Dit was die eerste keer in 33 jaar dat ʼn amateur ʼn toernooi van die Amerikaanse PGA-reeks wen.

Die laaste een voor Dunlap wat dit kon regkry, was Phil Mickelson wat in 1991 die Northern Telecom-titel as amateur ingeoes het.

*Die twee Suid-Afrikaanse spelers in die veld van die Farmers Insurance Classic, Christiaan Bezuidenhout en Garrick Higgo, is ver agter die voorloper ná die eerste ronde van dié PGA-toernooi in Kalifornië.

Bezuidenhout het 72 houe oor sy eerste 18 putjies gespeel, met Higgo wat ʼn telling van 73 (+1) aangeteken het.

Kevin Yu (64) gee op -8 die pas aan, gevolg deur Patrick Cantlay en Ryo Hisatsune op -7 in die gesamentlike tweede posisie.

Die begin van die Farmers Insurance-toernooi is met ʼn dag vervroeg sodat die einde van die toernooi nie bots met twee belangrike NFL-voetbalwedstryde wat Sondag in Amerika plaasvind nie.

  • Bykomende inligting: PGA Tour

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.