Scheffler op pad na nog ʼn sege?

Scottie Scheffler in aksie. (Foto: Mike Mulholland / Getty Images via AFP)

Wanneer die Amerikaner Scottie Scheffler eers sy neus voor in ʼn gholftoernooi kry, word hy nie maklik ingehaal nie.

Dit het Scheffler, wat verlede week die Amerikaanse Meesters op Augusta National gewen het, opnuut gewys toe hy die voortou in die derde ronde van die RCB-kampioenskap geneem het wat op die Harbour Town- gholfbaan in Hilton Head Islands gespeel word.

Scheffler, wat 63 houe in die derde ronde aangeteken het, het op 197 houe (-16) in die klubhuis geëindig.

Dit was vanjaar sy 38ste ronde onder baansyfer en het voëltjies op die tweede, vierde, vyfde, sewende, 11de, 15de en 18de putjies ingesluit.

Sepp Straka van Oostenryk is 198 houe (-15) een hou voor die Amerikaner Collin Morikawa (199, -14), met die jong Sweed Ludvig Aaberg en die Amerikaners Sahith Teegala en Patrick Rodgers saam vierde op 200 (-13).

Suid-Afrika se Erik van Rooyen is op 210 houe (-3) met sy landgenoot Christiaan Bezuidenhout op 211 (-2).

* In die Chevron-kampioenskap vir vroue wat by die Woodlands-gholflandgoed in Texas beslis word, is die derde ronde van die toernooi deur swaar weer ontwrig en sal dit eers Sondagoggend voltooi kan word.

Thailand se Atthaya Thitikul en Jin Hee Im van Suid-Korea het die voortou by die halfpadmerk geneem met die Amerikaner Nelly Korda wat in hul nekke blaas.

Korda is op koers om ‘n  yfde opeenvolgende toernooi in vanjaar se Amerikaanse PGA-reeks vir vroue te wen en het 69 houe in die tweede ronde aangeteken.

Thitikul en Im is op 136 houe, 11 houe onder die baansyfer gevolg deur Korda op 137 (-10).

* In die Joburg-Ope vir vroue wat op die Modderfontein-baan beslis word en deel is van die Europese reeks, het Chiara Tamburlini van Switserland die voortou in die derde ronde geneem op 205 (-14).

Sy is ses houe voor Aunchisa Utama van Thailand (211, -8) met Tsjeggië se Tereza Melecka en Luna Sobron van Spanje saam derde op 212 (-7).

Suid-Afrika se Nadia van der Westhuizen, wat ná die tweede ronde voor was, het in die derde ronde gesukkel en 77 houe aangeteken.

Sy is saam met haar landgenoot Nicole Garcia, Shannon Tan van Singapoer en Chanokhan Angurasaranee van Thailand sewende op 214 (-5).

Ander Suid-Afrikaanse tellings sluit in Casandra Alexander en Stacey Lee Bregman (albei 217, -2), met Danielle du Toit (219) en Ivanna Samu en Lee-Anne Pace albei op 220 (+1).

Bronne: The Golf Channel en BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.