Bokke in gelykop stryd: dit reën punte in Queensland

Joel Leotlela van die junior Bokke. (Foto: Albert Perez/Getty Images)

Die o.20-Rugbykampioenskap het Donderdag op ʼn sopnat Sonskynkus-stadion in Queensland afgeskop.

Die jong Bokke het in ʼn gelykop stryd van 13-elk teen Nieu-Seeland in die eerste wedstryd te staan gekom. Argentinië het die Wallabies, ook op die Sonskynkus-stadion, met 25-6 getroef.

Met net minute lange speeltyd oor, het Frank Vaenuku, vleuel van Nieu-Seeland, die Bokke van ʼn moontlike sege ontneem.

Sterk wind het ook sake op die veld vir albei spanne bemoeilik.

Die nat toestande het vir swak hanteerwerk gesorg en die Bokke het ietwat by die afbreekpunte gesukkel. Die span se verdediging was egter tops en hulle was met tye sterk baldraers.

Jurenzo Julius van die junior Bokke. (Foto: Albert Perez/Getty Images)

Die SA o.20’s het vir die grootste deel van die openingswedstryd van die kampioenskap in hul eie gebied vasgeval en het net een aanvalsgeleentheid gehad, maar kon dit nie in punte omskep nie.

Nieu-Seeland het gebiedsvoordeel in die eerste helfte geniet. ʼn Strafdoel op die halfuurmerk deur heelagter Isaac Hutchison was die enigste punte in die eerste 40 minute.

Spel het in die tweede helfte begin vlamvat met die Kiwi’s wat hul voorsprong na 8-0 gerek het met Stanley Solomon wat in die 50ste minuut die doellyn oorgesteek het.

Die junior Bokke se eerste punte op die telbord is met ʼn strafdoel aangeteken om die telling na 8-3 te laat krimp.

Kort daarna het die Bokke met hul eerste drie van die wedstryd gespog met Joel Leotlela wat onder die pale gaan kuier het ná puik werk van die senter, Bruce Sherwood, om munt uit ʼn fout deur Nieu-Seeland te slaan.

Ná Tylor Sefoor se oorskakeling en ʼn tweede strafdoel vier minute later, ná ʼn massiewe skrum, het die junior Bokke skielik met 13-8 voorgeloop. Dit kon meer gewees het as Suid-Afrika se losskakel nie ʼn poging deur die pale mis geskop het nie.

Met sewe minute op die horlosie oor, is plaasvervangerslot JF van Heerden met ʼn geel kaart van die veld gestuur en Nieu-Seeland het dié geleentheid uitgebuit. ʼn Drie in die laaste paar minute van die kragmeting het die Bokke se doppie finaal geklink.

Puntemakers:

Junior Springbokke 13 (0)Drie: Joel Leotlela. Doelskop: Tylor Sefoor. Strafdoele: Sefoor (2).

Nieu-Seeland 13 (3)Drieë: Stanley Solomon, Frank Vaenuku. Strafdoel: Isaac Hutchison.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.