Grace puik in Meksiko, res van span sukkel

Suid-Afrika se Branden Grace. (Foto: Vachira Vachira/NurPhoto via AFP)

Die Suid-Afrikaanse Stinger-gholfspan, wat bestaan uit Louis Oosthuizen, Branden Grace, Charl Schwartzel en Dean Burmester, het Vrydagaand (Suid-Afrikaanse tyd) op die El Camaleon-baan in Meksiko die eerste toernooi van vanjaar se LIV-reeks op ʼn vaal noot begin.

Slegs die tellings van die voorste drie spelers word in aanmerking geneem en nadat Grace (68), Burmester (73) en Schwartzel (74) houe aangeteken het, is hulle op +2 twaalf houe agter die Crusher-voorlopers, wat op -10 geëindig het, en in die negende posisie.

Dié voorloper-span bestaan uit Paul Casey (65), Charles Howell II (68) en Anirban Lahiri (70).

Hulle word gevolg deur die Smash-span en Dustin Johnson se 4 Aces wat saam tweede op -7 is.

Die 45-jarige Casey en die 37-jarige Amerikaner Jason Kokrak is saam voor in die toernooi op 65 houe, hoewel Casey op sy 15de putjie twee houe aan baansyfer afgestaan het.

Hulle word gevolg deur die Amerikaner Peter Uihlein (-4), met Grace (-3) saam sesde.

Grace het een arend en drie voëltjies aangeteken, maar op twee putjies houe aan baansyfer afgestaan.

* In die Amerikaanse PGA-reeks se Honda Classic-toernooi wat op die PGA National-baan by Palm Beach Gardens in Florida gespeel word, loop die Amerikaner Justin Suh (130, -10) met een hou voor sy landgenoot Chris Kirk (131, -9), met Engeland se Ben Taylor en nog ʼn Amerikaner, Ruan Gerard, derde op 132 (-8).

Suid-Afrika se Dylan Frittelli is op 136 houe (-4), gevolg deur Christiaan Bezuidenhout (139, -1), MJ Daffue (141) en Erik van Rooyen (154).

* In Nieu-Delhi in die Indiese Ope, wat deel is van die Road to Dubai-reeks, loop die Duitser Yannik Paul op 134 met vyf houe voor Mikko Korhonen (Finland), Gudmundur Kristjansson (Ysland), Marcel Siem (Duitsland) en Angad Cheema (Indië).

Suid-Afrika se Jayden Schaper is op 143, gevolg deur Shaun Norris (144), Thomas Aiken (146) en Daniel van Tonder (147).

* Op die Humewood-baan in Gqeberha loop Tom Vaillant van Frankryk (130, -14) met drie houe voor ná die tweede ronde van die Nelson Mandelabaai-kampioenskap wat deel is van die Sonskynreeks en in samewerking met die Europese Uitdaagreeks aangebied word.

Die Sweed Adam Blomme en Suid-Afrika se JJ Senekal is saam tweede (133, -11), gevolg deur Henric Sturehed (Swede) en Steven Brown (Engeland), wat albei op 135, -9 is.

Hulle word gevolg deur Trevor Fisher (jr.), Stuart Manley, Dylan Mostert, Pieter Moolman, Jaco Prinsloo, Craig Howie en Anton Karlsson (almal op 136, -8).

* In die Honda-LPGA-toernooi vir vroue wat deel is van die Amerikaanse LPGA-reeks en by die Siam-buiteklub in Thailand beslis word, is Suid-Afrika se Ashleigh Buhai (137, -13) vierde ná die tweede ronde van die toernooi.

Natthakritta Vongtaveelap (132, -17) is met twee houe voor haar Maleisiese landgenoot Atthaya Thitikul (-15), met Anna Nordqvist van Swede derde (-14). Lilia Vu van Amerika en Celine Boutier van Frankryk is saam met Buhai op -13.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.