Kan Suné Luus-hul die Aussies klop?

Suné Luus in aksie vir die Proteas. (Foto: Marco Longari/AFP)

Die Suid-Afrikaanse vrouekrieketspan kan Sondagmiddag op Nuweland sy drome in die eindstryd van die T20-Wêreldbeker-toernooi teen Australië bewaarheid mits hulle kalm kan bly, die borrelende adrenalien positief kan verwerk en die aansporing van 18 000 opgewonde toeskouers tot hul voordeel kan benut.

As dit moontlik is, moet die spelers ook nie toelaat dat die verwagtinge van miljoene Suid-Afrikaanse ondersteuners hul aandag aftrek nie.

Hulle hoef nie alleen die juk te dra nie, want hulle het die land reeds trots gemaak.

Hulle staan op die drumpel van roem, want Suné Luus-hulle kan die eerste Suid-Afrikaanse krieketspan word wat ʼn Wêreldbeker wen.

In dié stadium kan daar nie meer op spelpeil verbeter word nie, die voorbereiding is lankal afgehandel en al wat oorbly, is om sielkundig reg ingestel te wees, om vir mekaar te speel, mekaar aan te spoor en om die regte knoppies te druk wanneer dit saak maak.

Kan Suid-Afrika die Aussies klop?

Gaan blaai maar terug in die rekord-annale van Suid-Afrikaanse sportspanne – hoe die Springbokspan in 1995 teen alle verwagtinge in die Wêreldbekertoernooi gewen het toe hulle die All Blacks in die eindstryd op Ellispark in bykomende speeltyd met 15– 12 geklop het.

Wat van Jake White en Rassie Erasmus se Bokke wat dit in 2007 en weer in 2019 herhaal het?

Dit kan gedoen word, maar dit gaan senutergend wees, ʼn kat-en-muisspeletjie teen die beste span en spelers in die wêreld wees, maar wat in die Suid-Afrikaners se guns tel, is dat daar min dinge gevaarliker in sport is as ʼn span wat nie ʼn kans gegun word nie.

Suid-Afrika se vorige beste vertoning in T20-Wêrelbekertoernooie was twee plekke in die halfeindrondes van 2014 en 2020, maar die span was nog nooit in die eindstryd nie.

Daarteenoor spog Australië, die wêreld se voorste T20-span, met vyf oorwinnings in sewe toernooie sedert 2009.

Baie min kenners het Luus-hulle kans gegee om so ver te vorder, veral nadat die vorige kaptein, Dané van Niekerk, omstrede uit die span gelaat is omdat sy nie aan die fiksheidstandaarde voldoen het nie.

Toe die span boonop in sy eerste groepwedstryd deur Sri Lanka geklop is, is hy verder afgeskryf, maar namate die toernooi gevorder het, het die kolfpeil van Tazmin Brits en Laura Wolvaardt verbeter, Shabnim Ismail het al hoe vinniger begin boul en sy is baie goed deur Ayabonga Khaka teen Engeland in die halfeindstryd ondersteun, terwyl die ervaring en veelsydigheid van Marizanne Kapp, Chloe Tryon en Nadine de Klerk nie onderskat kan word nie.

Boonop speel die kapteinskap van Luus ʼn groot rol.

Die Aussies het die groeprondes onoorwonne afgesluit, maar is in die halfeindronde byna deur Indië gestuit toe hulle met slegs vyf lopies gewen het.

Hulle spog met van die wêreld se beste kolwers in Meg Lanning, Alyssa Healy, Beth Mooney en Tahlia McGrath, hulle het ʼn spog-boulaanval en aan ervaring is daar geen tekort nie.

Maar nou word hulle teen egte Suid-Afrikaanse passie opgeweeg en staan daar 40 boulbeurte tussen mislukking en roem.

Spanne:

Suid-Afrika (uit): Suné Luus (kaptein), Chloe Tryon, Anneke Bosch, Tazmin Brits, Nadine de Klerk, Lara Goodall, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Marizanne Kapp, Ayabonga Khaka, Masabata Klaas, Laura Wolvaardt, Nonkululeko Mlaba, Delmi Tucker, Annerie Dercksen.

Australië (uit): Meg Lanning (kaptein), Alyssa Healy, Darcie Brown, Ashleigh Gardner, Kim Garth, Heather Graham, Grace Harris, Jess Jonassen, Alana King, Tahlia McGrath, Beth Mooney, Ellyse Perry, Megan Schutt, Annabel Sutherland, Georgia Wareham.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.