Luus en kie sorg vir geskiedenis

Ayabonga Khaka het vier paaltjies in Engeland se kolfbeurt geneem. Foto: Marco Longari/AFP.

Die Protea-vrouekrieketspan het gister iets reggekry waarmee die manspan al sedert 1992 sukkel – om vir die eindstryd van ʼn Wêreldbekertoernooi te kwalifiseer.

Suné Luus se span het uitstekend terugbaklei om Engeland met ses lopies op Nuweland te klop. Daar was eers Tazmin Brits, Laura Wolvaardt en Marizanne Kapp se goeie kolfwerk wat gesorg het dat die telbord voortdurend aan die gang gebly het, waarna Shabnim Ismail en Ayabonga Khaka die wind uit die Engelse kolwers se seile gehaal het.

“Om in die eindstryd te speel is ʼn ongelooflike prestasie. Ek voel dat ons met elke wedstryd wat ons speel nie net vir ʼn tikkie geskiedenis sorg nie, maar ook ʼn hele nasie inspireer,” het Luus gesê.

Moet ook nie dink dat die Proteas se pad na die eindstryd sonder enige slaggate was nie; hierdie is immers Suid-Afrika waarvan ons praat.

Daar was die drama om Dané van Niekerk se weglating omdat sy nie Krieket Suid-Afrika (KSA) se vereiste fiksheidstoets geslaag het nie. Dan het hulle ook hul openingswedstryd teen Sri Lanka met drie lopies verloor nadat hulle nie 130 lopies vir ʼn oorwinning kon aanteken nie.

Tazmin Brits (links) is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Foto: Marco Longari/AFP.

Die span verdien ongetwyfeld ʼn klop op die skouer vir hul veerkragtigheid en hulle het gister hierdie einste karaktereienskap gewys toe hulle Engeland se wegholtrein ontspoor het.

Met die telling op 137/4 in die 17de boulbeurt het dit gelyk of die besoekers maklik die wenteiken van 165 lopies sou bereik, maar Khaka het amok gemaak onder die kolwers om met ʼn boulontleding van 4/29 te spog.

“Sy is ʼn fenomenale bouler en sy het beslis haar klas gewys. Ek sê nog altyd dat ons die beste boulaanval in die wêreld het en ons het nou teen die voorste internasionale kolfgroep te staan gekom. Ons wou met vryheid speel en ons kon die vrugte van daardie benadering pluk,” het ʼn dankbare Luus gesê.

Die Wêreldbeker is egter nog nie verby nie en hulle speel Sondag teen ʼn Australiese krieketspan wat eintlik nie weet hoe om wedstryde te verloor nie. Hulle was nog net een keer aan die verloorkant in hul afgelope 22 kragmetings.

Die Proteas sal weer op hul beste moet wees en hulle sal selfs beter moet speel as in gister se halfeindstryd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.