Blitsbokke bult bietjie spiere in 2de helfte

Die Blitsbokke het hul Perth-sewesveldtog op ’n wennoot teen Kanada begin. (Foto: X/Blitsbokke)

Die Blitsbokke het hul Perth-sewesveldtog op ʼn wennoot begin toe hulle vir Kanada met 24 – 7 in hul openingswedstryd geklop het.

Ná ʼn paar benoude oomblikke in veral die eerste helfte – soos wat die rustydtelling van 10 – 7 getuig – het die span in die tweede helfte vlamgevat om vir die 11de keer op ʼn streep met die Noord-Amerikaners af te reken.

Veral kaptein Selvyn Davids het ʼn barshou gespeel en hy het soos ʼn wafferse kulkunstenaar die verdedigers geflous, terwyl hy ook met sy goeie aanvoeling vir die spel beïndruk het.

Hy is met twee drieë beloon.

Dan het Quewin Nortjé en Tristan Leyds ook hul driedrukvaardighede uitgestal om uiteindelik ʼn gemaklike Blitsbok-oorwinning af te rond.

Tog was dit nog ver van die perfekte vertoning.

Die Suid-Afrikaners het ʼn paar duikslae gemis, terwyl hulle ook met tye met hul hanteerwerk gesukkel het.

Hul volgende wedstryd is om 12:22 teen Spanje.

  • Puntemakers: Drieë Selvyn Davids (2), Quewin Nortjé en Tristan Leyds.

Blitsbokke: Ryan Oosthuizen, Zain Davids, James Murphy, Masande Mtshali, David Brits, Katlego Letebele, Ronald Brown, Selvyn Davids (kaptein), Ricardo Duarttee, Tristan Leyds, Shilton van Wyk, Quewin Nortjé en Donovan Don.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.