Dyantyi moet langer wag om lot te hoor

Aphiwe Dyantyi (Foto: GB Jordaan)

Aphiwe Dyantyi se verhoor vir die gebruik van verbode middels is uitgestel.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) het in ’n verklaring gesê dat die verhoorverrigtinge ná drie dae uitgestel is. In ’n poging om Dyantyi se reg op ’n regverdige verhoor te beskerm, wil die organisasie nie verdere kommentaar lewer nie.

Die blitsige Bokvleuel, wat in 2018 as internasionale rugby se nuweling van die jaar aangewys is, het op 2 Julie 2019 ’n urienmonster tydens ’n Springbokoefenkamp ingedien wat positief vir verbode middels getoets is.

Die 26-jarige het van die staanspoor aangevoer dat hy onskuldig is wat die gebruik van anaboliese steroïede betref. Hy het onder meer gesê dat hy in harde werk en regverdige spel glo.

“Ek het nog nooit verneuk nie en sal ook nie,” het hy in ’n verklaring gesê. Die uitslag van sy B-urienmonster was egter óók positief.

Die toetse is by ’n geakkrediteerde World Anti-Doping Agency- (Wada-)laboratorium by die Universiteit van die Vrystaat gedoen en daar is bevind dat die Bokblits positief vir drie verbode middels getoets het.

Indien hy skuldig bevind word, kan hy vir tot vier jaar uit rugby geskors word.

’n Nuwe datum vir die verhoor moet nog vasgestel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.