Kyk: Jesse laat wiel doellyn toe

Springbok-agterspeler het ’n uitstekende drie vir sy Japanse klub gedruk. (Foto: Julien de Rosa/AFP)

Jesse Kriel het sy driedrukvaardighede die afgelope naweek in Japan uitgestal toe hy ʼn uitstekende individuele lopie in die hoekie afgerond het.

Die Springbok-agterspeler het in die 13de minuut van die Canon Eagles se kragmeting teen die Wild Knights die bal opgeraap, sy ore platgetrek en ʼn rits verdedigers op pad na die doellyn geklop.

Ondanks Kriel se briljante poging het die Wild Knights nogtans die wedstryd op ʼn drafstap met 43 – 14 beklink.

Die 30-jarige speler was een van die Springbokke se sterre in die Wêreldbeker-toernooi in Frankryk.

Hy het op buitesenter in die eindstryd teen die All Blacks uitgedraf en die gesaghebbende Franse rugbypublikasie Midi Olympique het hom in sy span van die toernooi ingesluit.

ʼn Maand of twee ná die sukses op die Stade de France het hy in Japan weer met All Blacks-sterre soos Aaron Smith en Beauden Barrett afgereken.

Die Eagles het toe vir Barrett-hulle se Toyota Verblitz met 24 – 22 geklop.

Kriel het vroeër erken dat hy sy rugby in Japan geniet.

“Ek is mal oor Japan en dit is baie lekker om iemand soos Faf [de Klerk] in dieselfde trui te sien. In ʼn vreemde land en kultuur is daar baie minder dinge wat jou aandag op én van die veld aftrek en jy kan meer op jou spel konsentreer.”

Volgens Kriel geniet die Japanners dit ook om die bal binne spel te hou; die kantlyn is nie sommer iets wat opgesoek word nie.

“Jou aangeewerk en verdediging moet dus skerp bly, terwyl die hoë werksetiek ook ʼn positiewe invloed op ʼn speler het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.