Sewes in Sydney: Blitsbokke pak Fidji in halfeindronde

(Foto:
Springbok Sevens/Twitter)

Die Blitsbokke het Saterdagoggend tot die halfeindronde van Wêreldrugby se sewestoernooi in Sydney deurgedring toe hulle Ierland met 26-12 geklop het.

Die Blitsbokke speel in Sondagoggend se een halfeindronde (07:28) teen Fidji, wat Brittanje met 26-14 geklop het.

In die ander halfeindronde speel Nieu-Seeland, wat Samoa met 12-0 in die kwarteindronde uitgeskakel het, teen die wenner van Australië en Frankryk.

Die Blitsbokke, wat warm en koud in vanjaar se reeks blaas, het voor die rustyd die oorwinning teen die Iere in die sakkie gehad nadat Christie Grobbelaar twee drieë gedruk en Shaun Williams ʼn derde bygevoeg het nadat hy die bal uit die lug gepluk het ná ʼn dwarsskop van Shilton van Wyk.

Die Iere, wat rustyd met 7-19 agter was, het ná rustyd teruggeveg met ʼn drie deur Andrew Smith.

Maar die Blitsbokke het die oorwinning beklink toe Jaiden Baron sy eie skop opgevolg en gaan druk het. Die beamptes het egter verbrou, want Baron was met albei voete buite die speelveld toe hy die bal ʼn laaste keer vorentoe geskop het.

Nietemin het die Blitsbokke verdien om te wen en sou dit nie ʼn getroue weergawe van hul oorheersing gewees het as hulle verloor het nie.

Maar dit gaan harde bene in die halfeindronde kos om die groot en balvaardige Fidjiane te troef, wat hul wedstryde in die groepronde teen Tonga (52-7), Japan (54-0) en Frankryk (19-12) gewen het voordat hulle Brittanje uitgestof het.

Boonop is die Blitsbokke se kaptein, Siviwe Soyizwapi, asook Ryan Oosthuizen beseer en sal hulle dalk nie kan speel nie.

Punte: Suid-Afrika 26 (19): Drieë: Christie Grobbelaar (2), Shilton van Wyk, Jaiden Baron. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (3).

Ierland 12 (7): Drieë: Aaron O’Sullivan, Andrew Smith. Doelskop: Billy Dardis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.