Sharks kán Clermont troef – Terblanche

Stefan Terblanche (regs) vier Curriebeker-sukses saam met Andries Strauss (Foto: Stringer/AFP)

Wanneer dit by rugbysake kom, is Stefan Terblanche nie iemand wat daarvan hou om doekies om te draai nie.

Dié voormalige Springbok-agterspeler is steeds ʼn trotse Sharks-ondersteuner, maar hy meen dat die span alles in die stryd sal moet werp om vir Clermont in die halfeindstryd van die Europese Uitdaagbeker te klop.

In ʼn neutedop het die Durbaniete ʼn goeie vertoning later vandag op die neutrale venue van die Twickenham Stoop nodig; veral as ʼn mens na hul aanvanklike geploeter in die Verenigde Rugbykampioenskap kyk.

Die Sharks het ʼn spul wedstryde op ʼn streep in daardie toernooi verloor en vir ʼn hele paar rondes die houtlepel op die amptelike punteleer rondgeswaai.

Maar ʼn Uitdaagbeker-oorwinning teen Clermont is ʼn tasbare bewys dat daar inderdaad lig aan die einde van die Sharks-tonnel is.

“Die Sharks het ongelukkig die Clermont-wedstryd nodig om hul seisoen te beredder,” het Terblanche vroeër die week aan Maroela Media gesê.

“Hulle kan nie weer bekostig om in die onderste liga van Europa te speel nie – hulle beskik oor uitstekende spelers en ʼn groot ondersteunersbasis. Hulle moet die Uitdaagbeker wen om vanself na die topliga te vorder.”

Dit gaan ongelukkig nie maklik teen Clermont wees nie – die Fransmanne spog immers met sterre soos Alex Newsome, George Moala en Anthony Belleau.

“Dit gaan ʼn klipharde uitdaging op ʼn neutrale veld in Londen wees. Clermont is ʼn groot en fisieke span en die Franse klub sal ongetwyfeld die Sharks se taaiste teenstanders van die afgelope paar wedstryde wees. Seker met minstens 20%.”

Die Sharks se selfvertroue het darem ʼn welkome momentuminspuiting gekry ná vier oorwinnings in die span se afgelope vyf wedstryde.

“Om te verloor kan net soos wen ʼn gewoonte word en dit het so baie met selfvertroue te doen. Baie kere sal ʼn span uitstekende rugby speel, maar hy kry net nie die bal oor die doellyn nie. ʼn Eerste sege ná ʼn paar nederlae kan weer ʼn vlam aansteek.”

Gelukkig kon die Sharks ook ʼn paar lesse uit die nederlae van vroeër leer.

Volgens Terblanche het die Durbaniete geleer om seges soveel meer te waardeer, juis omdat ʼn wenlopie nie vir ewig duur nie.

Dan is die waardes van harde werk, konsentrasie en respek ook weer onderstreep.

“As die Sharks met die bogenoemde waardes teen Clermont speel, staan ons ʼn kans. En uiteindelik is dit al wat ʼn mens benodig: ʼn klein kans en groot vertroue in jou span.”

Natuurlik het die spel van Springbok-sterre soos Eben Etzebeth, Ox Nché, Bongi Mbonambi en Vincent Koch tot die ommekeer bygedra, maar Terblanche glo dat van die ander spelers ook ʼn klop op die skouer verdien.

“Na my mening staan die spel van Ethan Hooker [senter] en Siya Masuku [losskakel] ook uit. Veral Masuku het ʼn reuseverskil gemaak, maar Clermont sal sy taaiste toets nóg wees. Dan het Aphelele Fassi [heelagter] ook weer begin wys waarom hy so ʼn hoogaangeskrewe speler vroeg in sy loopbaan was.

“Dit was hartseer toe die Sharks nie vroeër die seisoen hul volle potensiaal op die rugbyveld bereik het nie. Ek is egter baie bly dat hulle weer op die wenpad kon klim.”

Die wedstryd teen Clermont begin vandag om 13:30 en die aksie word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.