Vandag se sportnuus

(Foto: pixabay)

Krieket:

  • Die Knights-openingskolwer Jacques Snyman het die eerste Suid-Afrikaanse kolwer in ’n dekade geword om ’n honderdtal vóór middagete te slaan. Rilee Rossouw was die laaste plaaslike kolwer wat dié prestasie vermag het.

Die aanvallende Snyman het 109 lopies van slegs 78 aflewerings teen die Warriors gemoker en hy het ’n openingsvennootskap van 164 met Matthew Kleinveldt gedeel.

Die Warriors moes noodgedwonge ses van hul spelers weens Covid-19-regulasies uit die span onttrek en dit het beteken dat hulle nie hul transformasie-teiken vir die wedstryd behaal het nie.

Die Oos-Kapenaars het net vyf spelers van kleur – in plaas van ses spelers soos wat die regulasies vereis –vir die kragmeting beskikbaar gehad.

Teen uitskeityd het die Knights 405/5 op die telbord gehad.

  • In IPL-nuus het die Delhi Capital die Royal Challengers Bangalore met ses paaltjies geklop.

Anrich Nortjé (3/30) en Kagiso Rabada (2/30) het goed vir die Capitals presteer, terwyl AB de Villiers 35 lopies van 21 aflewerings vir RCB geslaan het.

Rugby:

  • Volgens John Plumtree, die All Blacks se hulpafrigter, sal nuwe spelers kans kry om hul kleim op die internasionale verhoog af te steek wanner die Kiwi’s vir die vierde agtereenvolgende keer die Wallabies aanvat.

Die Nieu-Seelanders het die afgelope naweek die Bledisloe-beker met ’n spogoorwinning van 43 – 5 teen die Aussies verseker en Plumtree voel dat die tyd ryp is om nuwe kombinasies uit te toets.

Tennis:

  • Kevin Anderson speel vandag in die openingsronde van die ATP 1 000-toernooi in Parys teen Serwië se Laslo Dere.

Die Suid-Afrikaner het verlede week tot die halfeindstryd van die Wene-toernooi gevorder waar hy teen Rusland se Andrey Rublev vasgeval het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.