Mercedes-AMG bring sy 53-reeks na SA

Die CLS 53. Foto: Verskaf

As jy min of meer my ouderdom (middel 30’s) óf ouer is as ek, was Mercedes-Benz‑produkte vir die mens wat die fyner dinge in die lewe kon waardeer. Jaagduiwels het BMW’s gaan koop en jou dokter, die man wat jy met jou lewe vertrou – hy’t ʼn E-klas Mercedes gery…

Hier in die vroeë 2000’s het ons volksvreemde Mercedes-Benz AMG’s hier op ons paaie begin sien. Dit was ʼn Mercedes-Benz, maar hy’t harder gebrul en net so hard gebyt soos die skollie se BMW. Ek sal nóóit die eerste keer vergeet wat ek in ʼn Mercedes-Benz CLS 55 AMG gery het nie. Dit was ʼn V8 met ʼn asemrowende superaanjaer. Dit het gevoel of al die krag op aarde onder dáái Merc se kap skuil.

Toe kom die 63 AMG. Dit was die tipe geluid wat enige pa van ʼn tienerdogter sooibrand gegee het. Dink ʼn mengsel van ʼn Harley en ʼn superfiets, sonder die tatoes. Die 63 AMG het ʼn sekere karakter gehad wat almal bewonder het. Dit was tóg ʼn Merc, maar hy’t vuil maniere gehad ná ʼn paar brannewyne. Dit was die pel oor wie jy mal was en lekker mee gekuier het – maar jou vrou nie so baie nie.

Die E 53. Foto: Verskaf

Mercedes het vir hulself hul eie gaping in die mark geskep. Noudat daar die vuurvretende 63 AMG is, was daar weer plek vir ʼn beskaafde doktersmotor… welkom almal aan die Mercedes‑AMG 53. Daar is twee 53 modelle nou beskikbaar, ʼn CLS 53 en E 53. Albei is Mercedes‑AMG‑voertuie. Kom ons begin by die CLS. Dít is die voertuig wat die vierdeur‑koepee‑mark geskep het.

Die CLS het Mercedes-AMG se pragtige binneruim. Asemrowende 12”‑skerms vertoon elke brokkie inligting waaraan ʼn mens kan dink. Daar is twee lieflike AMG‑sitplekke voor wat ʼn mens lekker vashou as jy ʼn renbaan trotseer. Die verrassing kom in die vorm van die sessilinderenjin. Mercedes sal voortaan met hul V6 wegdoen, en in die toekoms sal die in-lyn‑sessilinder die enjin wees. Dié enjin word ook met elektrisiteit gehelp. Die stelsel bied ʼn totaal van 320 kW en 520 Nm‑wringkrag.

Die CLS 53. Foto: Verskaf

Die hibriede‑stelsel maak gebruik van wat Mercedes-AMG EQ Boost-aanvangsgenerator noem. Dit vervang die tradisionele aansitter en alternator en sit tussen die enjin en die ratkas. Dié elektriese motor bied 16 kW en 250 Nm wanneer dit nodig is. Die 53 het ook ʼn elektriese aanvullende kompressor  wat turbotraagheid bekamp. Dié kompressor kan vinnig turbodruk opbou vir versnelling terwyl die turbo self aan die gang kom. Al dié tegnologie as ʼn stelsel bied blitsige versnelling en skerp enjinreaksie. Die CLS 53 4MATIC+ versnel van 0 – 100 km/h in 4,5 sekondes en is beperk tot 250 óf 270 km/h met die bestuurderpakket. Die E 53 4MATIC+ koepee en afslaankap versnel tot 100 km/h in 4,4 en 4,5 sekondes en sal dieselfde 250 of 270 km/h bereik.

Beide die CLS en E-klas geniet Mercedes se AMG SPEEDSHIFT TCT 9G 9-spoed–dubbelkoppelaar‑  outomatiese ratkas. Die krag word deur dié ratkas aan al vier wiele gesit. Mens kan kies tussen verskeie ry-modusse.

Die E 53 se AMG-enjin. Foto: Verskaf

Daar is Reduced vir wintertoestande met sneeu, Moderate vir alledaagse gebruik, Sport vir harder vering; vinniger ratwisselings; harder uitlaatpypnoot en vinniger stuur-reaksie. In Dynamic kan mens self verskillende eienskappe kies onder een profiel – en Race! Ons het drie modelle by Kyalami gery. Daar was verskillende pylvakrenne en gymkhana‑uitdagings asook rondtes om die baan. Dit is verbasend hoe só ʼn luukse voertuig sy sokkies kan optel en hol.

Die lekker ding van die 53 is dat hy twee heeltemal verskillende voertuie kan wees. Een oomblik is dit ʼn hiperluukse verkeervernietiger en die volgende is dit ʼn sportmotor wat gery wil word en jou aanpor om voet in die hoek te sit.

Die reekse lyk só:

Mercedes-AMG E 53 4MATIC+ CoupéR1 311 700
Mercedes-AMG E 53 4MATIC+ CabrioletR1 430 600
Mercedes-AMG CLS 53 4MATIC+R1 491 600

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/onbeperkte km‑waarborg en 5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik van George ·

Teen daardie prys kan net parlementariërs en BBBEEEE ontvangers dié Mercs bekostig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.