Hollywood: ‘The Little Mermaid’-ster (74) sterf; Ariana Grande deel troufoto’s

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se internasionale vermaaknuus.

The Little Mermaid-ster (74) sterf

Samuel E Wright in 2013 op ‘n spesiale vertoning van ‘The Little Mermaid’ in New York. (Foto: Craig Barritt / Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Huldeblyke stroom in vir die Amerikaanse akteur Samuel E Wright, bekend as die stem van Sebastian die krap in Disney se The Little Mermaid, wat in die ouderdom van 74 gesterf het.

Volgens sy familie het Wright Maandag by sy huis in Walden, New York, gesterf ná ʼn drie jaar lange stryd teen prostaatkanker.

Wright het die 1989-animasie se Oscar-bekroonde liedjie “Under the sea” gesing. Hy het later die rol van Mufasa vertolk in die Broadway-weergawe van The Lion King, waarvoor hy ʼn Tony-benoeming ontvang het.

Hy het ook die rol van jazz-ster Dizzy Gillespie vertolk in Clint Eastwood se Bird.

Wright is gebore in Camden, Suid-Carolina, in 1946, en was deel van die oorspronklike rolverdeling van die Broadway-stuk Jesus Christ Superstar in 1971.

Hy het ook in die musiekblyspel Pippin verskyn en ʼn Tony-benoeming in 1984 vir die musiekblyspel The Tap Dance Kid ontvang.

“Sebastian het vir my gegee wat ek nog altyd as akteur wou hê, en dit is onsterflikheid,” het Wright in 1991 aan Entertainment Weekly gesê.

“Sover dit my betref, is dit hoekom ek in die bedryf is. Ek wil hê die hele wêreld moet my liefhê en my vir altyd onthou.”

Kelly vervang Ellen op die kassie

Kelly Clarkson. (Foto: Ethan Miller/Getty Images /AFP)

Die sangeres en geselsprogramaanbieder Kelly Clarkson gaan Ellen DeGeneres se tydgleuf op die VSA-televisienetwerk NBC oorneem.

DeGeneres het vroeër vandeesmaand aangekondig dat haar program, The Ellen DeGeneres Show, in 2022 ná 19 seisoene tot ʼn einde gaan kom.

Die aanbieder sê sy verlaat die program, “want dit is nie meer ʼn uitdaging nie”.

NBC het gesê The Kelly Clarkson Show, nou in sy tweede seisoen, sal DeGeneres se program in herfs 2022 vervang.

Ellen DeGeneres in 2020 op die 62ste jaarlikse Grammy-toekennings by die Staples Center in Los Angeles, Kalifornië. (Foto: Frazer Harrison / Getty Images North America/ Getty Images via AFP)

Tracie Wilson, uitvoerende visepresident van NBC Universal Syndication Studios, sê: “Kelly en ons hele produksiespan plaas hulle hart, voornemens en ongelooflike passie in die vervaardiging van ʼn program waarby mense van alle ouderdomme, kulture en agtergronde aanklank kan vind.”

Clarkson (39) het die eerste seisoen van American Idol in 2002 gewen en het sedertdien treffers gehad met liedjies soos “Stronger”, “Miss Independent” en “Since U Been Gone”.

The Kelly Clarkson Show, ʼn uur lange program waarop bekende gaste verskyn, het in 2019 gedebuteer.

DeGeneres (63) het vroeër vandeesmaand onthul sy gaan die program beëindig. Haar vertrek kom ná dalende kykergetalle en bewerings deur sommige personeellede dat daar ʼn toksiese werksomgewing agter die skerms van The Ellen DeGeneres Show was.

Dit het daartoe gelei dat drie senior vervaardigers van die program hulle werk kwyt is en DeGeneres het die huidige seisoen met ʼn regstreekse verskoning afgeskop.

Ariana Grande deel troufoto’s

Ariana Grande en Dalton Gomez is in Los Angeles by haar huis getroud. (Foto: Instagram/@photokohli)

Die sanger van “7 Rings”, die Amerikaanse popster Ariana Grande, het Woensdag foto’s van haar intieme troue met Dalton Gomez op sosiale media gedeel.

Sy en die eiendomsmagnaat is verlede Sondag in haar huis in Montecito, Los Angeles, getroud.

Grande was in ʼn Vera Wang-skepping geklee by die seremonie waar slegs 20 gaste teenwoordig was. Dalton het ʼn swart-en-wit Tom Ford-snyerspak gedra.

Grande (27) het haar verlowing met Gomez (25) aangekondig in ʼn inskrywing op Instagram in Desember. Dit het foto’s van die paartjie en haar diamant-en-pêrelring gehad, met die onderskrif “vir ewig en nog ʼn paar jaar”.

Die egpaar is vir die eerste keer saam in die openbaar gesien in ʼn musiekvideo vir die liedjie “Stuck with U”. Grande het die lied saam met Justin Bieber tydens die inperkingstyd in Kalifornië opgeneem en uitgereik.

Bron: E! News, BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.