Leon van Nierop se resensie: Ant-Man and the Wasp

Ant-Man and the Wasp     *** (7/10)
Met Paul Rudd en Evangeline Lilly
Regisseur: Peyton Reed

Indien jy dalk nie geweet het nie, Ant-Man and the Wasp is glo die twintigste rolprent in seker een van die suksesvolste rolprentreekse sedert James Bond ʼn rewolwer uit sy skedelsak gehaal het, naamlik die Marvel-strokiesreeks.

Wat hierdie Marvel anders maak as sy voorgangers (met die uitsondering natuurlik van 2015 se Ant-Man en die karakter se kortstondige verskynings in ander Marvel-rolprente) is die feit dat hierdie superheld menslike gebreke het. Dat hy bang is. Dat hy eintlik net ʼn goeie ouer wil wees. Dat hy kleiner is as die kop van Thor se hamer. En dat hy sodanig kan krimp, dat hy tjoef-tjaf! tussen twee vloerplanke kan verdwyn.

Wat hierdie rolprent nog joliger maak, is omdat Ant-Man, wat eintlik net ʼn doodgewone pa is (soos Bob Parr in die Incredibles-reeks) boonop lomp is en kort-kort die verkeerde knoppie op sy uniformpie druk. Wanneer hy dan in sy superpakkie spring, wat nouer om hom sluit as ʼn sjokoldepapiertjie, druk hy aanhoudend die verkeerde knoppie, sodat hy groter word in plaas van kleiner. Dus word iemand, wat eintlik onsigbaar moet wees, skielik 20 verdiepings groot met histeriese gevolge!

Jy ly dus seker uit die resensie af dat hierdie ʼn skaterlagkomedie is. Wat dit nog verder onderskei van sekere ander Marvel-flieks (daar is natuurlik uitsonderings) is die feit dat vroue ʼn groter rol as gewoonlik speel. Evangeline Lilly is nommerpas-sexy en gesaghebbend as die perdeby, terwyl Hannah John-Kamen as die gefolterde spookmeisie Ava, asook Michelle Pfeiffer as Hope van Dyne (Evangeline Lilly) se ma, ook ʼn sterk rol speel wat die aksie laat voortbeweeg in plaas van om net as ooglekkergoed te dien.

Die fliek gaan oor Janet van Dyne wat dertig jaar gelede in die donker dieptes van wetenskapfiksie verdwyn het. Nou probeer haar man en dogter om haar terug te kry uit die vergetelheid, terwyl Ant-Man haar wil gaan soek.

Terwyl jy miere dalk as ʼn plaag sien wat jy met ʼn kannetjie Doom wil bykom, is hulle hier eintlik vriendelike helde, veral die parmantige Ant-Man. Hy is klein maar getrein! En met moed groter as miere se vele tentakels!

Soms wil ʼn mens sommer net na ʼn doodgewone aksiefliek gaan kyk waar die aksie jou darem nie sodanig oorweldig dat jou koeldrank uit jou glas stort nie – (oppas vir die 4D-X-stoele!). Jy wil boonop tjil en van die hoë petrolprys vergeet. Dan is Ant-Man and the Wasp net waarna jy soek. Dit is vrolik met onverwagse kwinkslae, veral van Michael Peña as Ant-Man se beste pel, Luis, en meer onvoorspelbaar as enige van die ander Marvel-Univers-eposse. Dan het jy jou tjilpil vir die week gekry, en boeta! Gaan jy lekker aan hom sluk. Aanbeveel as byderwetse vermaak vir oud en jonk!

Ant-Man and the Wasp wys nou by SterKinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op kamera wat op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae