Luister: Grapjas TikTokkers laat Afrikaanses skater

Qman en Borrie. (Foto: Maroela Media)

ʼn Paar stoute grappies oor die huwelik, wat aanvanklik in die vorm van kort video’s op Facebook gedeel is, het uiteindelik tot ʼn volwaardige loopbaan as inhoudskeppers vir Quinton en Bernice van Rensburg, beter bekend as Qman en Borrie, gelei.

Dié kort episodes het intussen ontwikkel tot ʼn volwaardige reeks, getiteld Lae Houe op TikTok, Facebook en Instagram, en het vir die Van Rensburg-egpaar van Pretoria intussen byna 200 000 volgelinge besorg.

Hulle spog ook met ʼn gesogte DStv Content Creators-toekenning, waarmee hulle verlede jaar vereer is.

Qman en Borrie vertel in Maroela Media se ateljee hulle sou nooit kon droom dat die vervaardiging van ʼn paar grappige video’s uiteindelik tot ʼn semi-formele loopbaan in inhoudskepping en seremoniemeesterswerk vir hulle sou ontwikkel nie.

“Dit het aanvanklik begin met kort video’s wat nie langer as 20 sekondes was nie. Die mense wou graag meer hê en uiteindelik het ons episodes van sowat twee minute lank begin skryf en vervaardig,” vertel Qman.

“Die heel eerste drie video’s was net Engelse grappies wat ons in Afrikaans vertaal het. Daarna wou ek oorspronklike inhoud skep en uiteindelik het dit tot ʼn volwaardige mini-reeks gegroei.

“Die grappies is geskoei op werklike gebeure in ʼn huwelik, en daarom vind mense aanklank daarby.”

Qman en Borrie. (Foto: Maroela Media)

Qman en Borrie is nege jaar getroud en het twee klein dogtertjies. Die paartjie sê dit verg ʼn noukeurige skedule om by alles waarmee hulle tans besig is, uit te kom.

Borrie is doenig in die ingenieursbedryf, waar sy hoofsaaklik betrokke is by die opleiding van en werkskepping vir die jeug in dié veld.

Tog sou Qman, wat as videograaf vir troues en ander geleenthede ook sy brood en botter verdien, homself slegs op seremoniemeesterswerk wou toespits sou hy die geleentheid kry, bieg hy.

“Ek geniet dit so baie. Ons is mal oor die feeste en die mense, en geniet dit as mense hulle stories met my deel. Mense skroom ook nie om ons te nader of te groet in die publiek nie, en ons staan graag vir ʼn foto. Dit is vir ons lekker.”

Qman en Borrie tree eersdaags as ambassadeurs van die Glimlagfees in Gauteng op. Dié fees bied ʼn propvol program en ʼn rits aktiwiteite vir jonk en oud, en word the bate van die Smile Foundation-liefdadigheidsorganisasie gehou.

Kunstenaars soos Karen Zoid, Kurt Darren, Rubber Duc, Irene-Louise van Wyk, Martin Bester, Danny Smoke, Janie Bay, Early B en vele meer gaan feesgangers op hul voete hou.

“Ons is baie sosiale wesens en hou daarvan om uit te gaan. Ons sien baie uit daarna om die Glimlagfees by te woon en die feesgangers te ontmoet.”

Die Glimlagfees vind by die Benoni Northerns Sports Klub in Northmead, Benoni, plaas. Kaartjies is beskikbaar by Ticketpro.

  • Luister boaan die berig na die volledige ateljeeonderhoud met Qman en Borrie.

Kyk hier hoe speel Qman en Borrie ‘As die vellie pas’ by Maroela Media:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.