Andriëtte se nuwe album reeds ’n treffer

Foto: caxtonmagsapps.co.za

Foto: caxtonmagsapps.co.za

Nadat sy in 2007 tweede gekom het in Idols het Andriëtte haar as ’n gewilde kunstenaar op die Afrikaanse musiektoneel gevestig.

Haar jongste album, Pêrel vir ’n kroon, is pas vrygestel, en dit lyk asof dit reeds ’n groot treffer is. Die album bestaan uit 13 snitte wat stories van die lewe en die liefde in al hul verskillende kleure vertel, en dit bevat alles wat ’n mens nou al van haar kan verwag: deeglik deurdagte woorde en meevoerende melodieë; daardie “iets” wat jou boei om verder te luister.

Andriëtte se afwisseling van lae en hoë registers kombineer met kitaar, baskitaar, klavier en tromme, asook ’n verskeidenheid ander instrumente om snitte soos die titelsnit, “Verlief op liefde”, “Sonhorlosie” en “Bittersoet van liefde” tot diep in jou binneste te dra.

Die ritmes van die meeste snitte sal jou laat dans, soos “Klim, klim, klim”, terwyl die duet saam met André Venter, “Tot oneindig einde kry”, ’n merkwaardige snit met sterk solo-momente en magiese harmonieë is. Nog hoogtepunte op die album is “Flower of Scotland” en ’n akoestiese weergawe van haar groot treffer “Sewe oseane”.

’n Resensie van Pêrel vir ’n kroon, wat reeds landwyd beskikbaar is, sal binnekort verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.