Zybrandt: ʼn Liedjieskrywer om mee rekening te hou

Zybrandt. (Foto: Verskaf)

Die Kaapse musikant Zybrandt is ʼn nuwe kunstenaar op die alternatiewe Afrikaanse musieklandskap en ʼn liedjieskrywer om mee rekening te hou.

Zybrandt het op skool begin musiek maak en as kind reeds klavier en kitaar gespeel. “Op 15 het ek my eerste elektriese kitaar gekry, maar ek het altyd gedink dit is net die cool ouens wat in bands kan speel,” vertel hy.

Hy onthou hoe hy destyds ure lank elke dag op sy kitaar gespeel het. “Ek het selfs in die donker met die kitaar gelê en my vingers op en af oor die snare laat hardloop. Tog was ek stil en eenkant en die idee om ooit ʼn groep te begin was belaglik.”

Hy het egter later sy skaamte in sy sak gesteek en uiteindelik in drie groepe, genaamd Velve, Downonthefirst en December Lanterns, gespeel.

Nou het hy op 40-jarige ouderdom besluit om die Afrikaanse musiekbedryf te betree. Sy jongste enkelsnit getiteld “Anders” volg op die snit “Renoster in ʼn Superspar”, ʼn sielvolle snit met “’n titel wat dalk ʼn bietjie misleidend is ten opsigte van waaroor dit werklik gaan”.

Zybrandt. (Foto: Verskaf)

Fred ten Hartog van Die Heuwels Fantasties was verantwoordelik vir die vervaardiging van die liedjie “Renoster in ʼn Superspar”.

Hy gee toe dat die Covid-19-pandemie hom die kans gegee het om sy musiekloopbaan in plek te kry. “Soveel musikante het baie seergekry tydens die inperking, maar ons was gelukkig omdat ons toe die geleentheid gekry het om saam met musikante soos Fred te werk wat andersins heeltemal te besig is.”

Zybrandt vertel dat die musiekvideo vir “Anders” die stelling meer vanuit ʼn ander oogpunt benader. Heinrich Laubscher was die regisseur en Hugo Brand die kinematograaf terwyl Kelsey-Sarah Nunn as kunsregisseur ʼn wonderwêreld geskep het waarin verskillende dele van die video afspeel.

“Die storie in die video wys hoe die hoofkarakter deur verskillende oomblikke in sy lewe stap waar hy deel is van alles, maar ook heeltemal verwyder daarvan is. Daar is ʼn hele paar verskillende tonele in die video waarin alles op ʼn kunstige manier saamgevleg word. Die span se visie ten opsigte van hoe hulle dit uitbeeld, is fenomenaal en ek is regtig trots daarop om deel van die video te wees.”

Hy beplan om binnekort ʼn kortalbum, waarin “Anders” sal verskyn, uit te reik. Hy en Jeremy Farber het pas ʼn ateljee gebou waar hulle saam musiek gaan vervaardig en hy sal binnekort op die verhoog te sien wees. Hy werk ook aan ʼn digbundel wat later vanjaar die lig sal sien.

“Ek skryf soveel as wat ek kan vir opnames. Ek werk saam met die wonderlikste span. Nie nét omdat hulle talentvol is nie, maar hulle is ook ongelooflike mense. Dit inspireer my en ek sien baie uit na die jaar wat voorlê.”

Zybrandt vertel die musiekgogga het reeds sy driejarige seuntjie, wat ook Zybrandt heet, gebyt. “Sodra ek musiek aansit, begin hy head bang. Ek weet nie by wie hy dit gekry het nie,” skerts hy.

Hy is op 16 April by die Jamrock-teater in Brackenfell te sien. Kaartjies kos R150 en is beskikbaar by [email protected].

“Anders” is op alle groot digitale platforms beskikbaar.

Kyk hier na die musiekvideo vir “Anders”:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.