Foto’s: Kunstebedryf skitter tydens Fiëstas

donnalee en ivan

Die akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts op die kykNET-bloutapyt. (Foto: Leonie Bezuidenhout/Maroela Media)

Die room van die Suid-Afrikaanse kunstebedryf het Donderdag op die kykNET-bloutapyt geskitter vir die jaarlikse Fiësta-toekennings by die Montecasino Teatro.

Die aktrise en modepop Leandie du Randt Bosch, wat die klerereeks Skoonma in 2016 op die been gebring het, het in een van haar eie skeppings die geleentheid bygewoon. “Die rok is spesiaal vir my gemaak vir vanaand,” het Du Randt Bosch aan Maroela Media gesê.

Simoné Nortmann het ʼn salmpienk rok deur Suné Snyman gedra terwyl Zetske van Pletzen, aan die arm van haar man, Altus Theart, in ʼn heldergeel rok met ʼn lang slit, been gewys het.

Theart het ook saam met sy groeplede van die opkomende poprock-groep EON op die tapyt verskyn. Theart, Jerry Spangenberg en Pieter Marcato het hemde met die EON-handelsmerk, wat onder hul deftige kraaghemde versteek is, vir die kameras geflits.

Die akteur Sean van Noordwyk, beter bekend as Reitz in die kykNET-sepie Getroud met rugby, het deftig gelyk in ʼn pak met ʼn houtdas.

Paul du Toit, wat met die beeldjie vir beste akteur weggestap het, het saam met sy goeie vriend, die akteur Terence Bridgett, op die tapyt gestap. “Ek is so trots [op Paul] ek kan skree!” het Bridgett na afloop van die toekenningsgeleentheid op Instagram geskryf.

Die sangeres Amor Vittone het geblink in ʼn silwer Charmaine Ellis-skepping. Ilse Klink het elegant gelyk in ʼn swart aandrok terwyl die aktrise Cintaine Schutte, van kykNET se Phil 101– en Die Kasteel-faam, haar lyf in ʼn ligbruin Suzaan Heyns-skepping aanbieder gehou het.

Reynardt Hugo van die sanggroep Adam het saam met sy meisie, Anmare Roothman, op die tapyt gepronk. Roothman het ʼn kleurvolle romp gedra saam met ʼn swart langmouhemp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.