Karlien van Jaarsveld: ‘Ek kan nie glo dis al 10 jaar nie’

Karlien van Jaarsveld. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Om ʼn bekende popster te wees was nooit deel van Karlien van Jaarsveld se kleindogtertjie-drome nie. Inteendeel, vertel sy, sy het nooit plek gekry in die skool se operette nie en was sy seker sy kan nie eintlik sing nie.

“Ek het nogal gedink my broer is gebore vir die verhoog. Hy het altyd gesing en van jongs af ʼn passie daarvoor gehad,” vertel sy oor haar broer, die sanger en akteur Bobby van Jaarsveld.

Die dae dat daar na Karlien verwys is as “Bobby se suster” is egter lank vergete. Dié blonde popster staan al vir meer as ʼn dekade stewig op haar eie voete in die Afrikaanse musiekbedryf as een van die land se gewildste sangeresse en vanjaar vier sy 10 jaar sedert haar eerste album, As die gordyn val, uitgereik is.

Sy het die publiek se aandag getrek as voorsanger van die rockgroep Revolusie, hoewel sy destyds oortuig was dat haar lewe as sanger net tydelik was. Op 22 het sy die besluit geneem om haar hart vir die Here te gee en ook haar lewe as rocker vir eers opsy te skuif.

“Wanneer jy die eerste keer jou hart vir die Here gee, is daar baie veranderinge wat jy wil aanbring omdat jy nie heeltemal seker is wat Sy verwagtinge van jou is nie, so jy voel die verwagtinge van Sy kant af lyk vir almal dieselfde. Ek was nog onseker oor wie ek was en wat God se agenda was, en hoe ek inpas daarby. Ek het nooit gedink dat ek musiek sou maak vir ʼn lewe nie, en ek het altyd gevoel dat my dae in ʼn band net tydelik sou wees. Ek het eintlik gedink ek gaan seker vir my pa werk.”

Tog koester sy steeds ʼn voorliefde vir rock-musiek. Haar jongste enkelsnit, “Stiltes”, het meer van ʼn akoestiese rock-klank as haar ander gewilde treffers soos “Hande”, “Geskeurde jeans” en “Rooilipsoene”. “Stiltes” is ook ʼn groot treffer en pryk reeds vir 12 weke op die Maroela Media Afrikaanse Top-20.

“Dit is een van die soort liedjies wat ek meer net vir myself skryf. Ek skryf baie sulke liedjies wat nie my albums haal nie, goed wat minder kommersieel is. Ek hou daarvan as ek ʼn liedjie soos ‘Stiltes’ het wat ek ook op die verhoog kan doen. Ek dink dit gee weer wat in my hart aangaan.”

Zak Hendrikz en Karlien van Jaarsveld is die Prins en Aspoestertjie.(Foto: Megan Gittins/Maroela Media

Karlien en Zak Hendrikz tydens ‘n kleedrepetisie vir die pantomime ‘Aspoestertjie’.(Foto: Megan Gittins/Maroela Media)

Sy vertel van ʼn rou oomblik op die verhoog tydens die Innibos Laeveld Kunstefees toe sy verkeerd ingeval het en haar musikante genoop was om die hele liedjie akoesties aan te pak.

“Dit is iets wat ek nooit sal vergeet nie. Dit was só eg, ons was só in die oomblik. Ek is mal oor sulke oomblikke.”

ʼn Groot deur in die Afrikaanse popmusiek-wêreld het vir Van Jaarsveld oopgegaan toe sy destyds tydens die Rittelfees die Cher-treffer “Just Like Jesse James” gesing het terwyl Bobby op die verhoog was. Johan Vorster, tans direkteur van die vervaardigingsmaatskappy Inhoud Huis, was daardie aand in die gehoor.

“Nadat ek Revolusie verlaat het, het ek nogal gewonder wat ek gaan doen. Ek het nie ʼn graad nie. Ek het vir ses maande bemarking geswot toe het my pa my by die technikon kom haal het en gesê het ek mors sy geld,” lag sy.

“En toe slaan my lewe ʼn rigting in wat ek glad nie beplan het nie. Ek kan nie glo 10 jaar is al verby nie. Dit is ʼn groot voorreg om langer in die bedryf te kan wees as wat jy miskien gedink het jy gaan wees.”

Sy bieg dat sy soms daaraan dink om haar verhoogskoene op te hang en net ʼn ma by die huis te wees vir haar drie kinders, die tweeling Eliah en Daniël, en haar dogtertjie, Elah. Haar seuntjie, Johannes Samuel, maak eersdaags sy opwagting.

Karlien van Jaarsveld en haar dansmaat, Devon Leigh Snell, op die program ‘Strictly Come Dancing’. Karlien is as die wenner van dié kompetisie aangewys. (Foto: Twitter)

“Dis hoekom ek ook minder vertonings doen, al is daar oor die algemeen nou minder vertonings. Ek kan hierdie tyd met my kinders nooit weer terugkry nie. Elkeen van my kinders het soveel verskillende behoeftes, elkeen se emosies is verskillend en elkeen ervaar dinge verskillend. Daar is baie goed wat ek vir hulle moet doen en ek besef hoe nodig hulle my het.

“Ek weet nie of ek vir die res van my lewe gaan sing nie, maar vir nou is dit vir my ongelooflik lekker. Ek is mal daaroor en ek geniet die oomblik. Ek is nie ʼn groot beplanner nie, ek vat dinge dag vir dag soos wat dit kom.”

Sy het die afgelope 10 jaar groot geleenthede in haar loopbaan met albei hande aangegryp. Nie net pryk sy reeds sedert die aanvang van die uiters gewilde Afrikaans is Groot-konsertreeks op dié gesogte verhoog nie, maar is sy ook as wenner van die agtste seisoen van Strictly Come Dancing aangewys en sy het ook twee keer ʼn draai op die planke gemaak in die hoofrol van die Afrikaanse pantomime Aspoestertjie.

Sy en Bobby ploeg graag albei terug in die gemeenskap deur liefdadigheidswerk te doen en hulle het ook saam die VIA-program In jou skoene aangebied, waar hulle tyd saam met minderbevoorregtes deurgebring het om bewustheid oor Suid-Afrikaners in nood te skep.

“Ons het verskillende kante van die lewe gesien. Ons was al baie ryk en ons was al baie arm. My ma het ook altyd liefdadigheidswerk gedoen. Sy het in sopkombuise gewerk waar ek en Bobby ook partykeer pouses sop gaan haal het,” onthou sy.

“Ons het baie mense gehad wat ons gehelp het, en daarom wil ek graag ook mense help. Pay it forward,” sê sy.

Karlien in aksie op die Afrikaans is Groot-verhoog in 2017. (Foto: Stephen Elliott)

“Enige iets kan enige dag gebeur, niks is gewaarborg nie. Jy weet nie wat die lewe bring nie. En daar is mense wat nog baie swaarder kry as wat my eie ervaring van swaarkry is, maar ek is baie bewus daarvan dat die lewe nie vir almal dieselfde lyk nie.”

Sy skryf hoe sy kritiek deur die publiek hanteer toe aan haar sterk verhouding met die Here. “Ek sou nie self op ʼn plek kon kom waar ek verstaan vanwaar sekere soort kritiek kom nie. Ek dink ek sou baie meer hartseer, depressief en kwaad gewees het as ek nie die Here gehad het om my te help verstaan nie.

“Die Here weet presies wie ek is en Hy weet vir my om iets te kan verstaan is ʼn baie belangrike aspek van ons verhouding. En as Hy vir my ʼn openbaring bring oor ʼn ding, dan kan ek heeltemal berusting vind met behulp van Sy kennis en insig – dit kom nie uit mens self uit nie. Maar as ek iets nie kan verstaan nie, dan ry dit my nogal. Dan hou ek aan wonder hoekom mense mekaar so seer maak.”

Sy ag die pad wat sy met God stap haar beste leerskool tot dusver. “Ek voel werklik die enigste ding wat ek regtig al bietjie kon verstaan in my lewe is my pad met God. Dis al. Wiskunde, no ways.”

Maroela Media het vir Karlien 20 prettige en vinnige vrae gevra. Kyk hier:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.