Luister: Demi Lee wil ‘Die Kontrak’ ʼn tweede keer wen

Demi Lee Moore kuier in Maroela Media se ateljee. (Foto: Maroela Media)

“Dit is belangrik dat jy gereed moet wees. Ek het tien jaar [in die bedryf] gehad om voor te berei vir daardie een oomblik.”

Dit is die sangeres en liedjieskrywer Demi Lee Moore se raad vir voornemende deelnemers aan die derde seisoen van Die Kontrak, wat eersdaags weer op eTV afskop.

“Die toptwee staan uiteindelik op die verhoog by Afrikaans is Groot, en dit is erg as jy nie aan so iets gewoond is nie.

“As jy daar op die verhoog uitstap en daar sit 9 000 mense voor jou, sak jou hart tot in jou skoene, maar jy moet maar sing. En dan moet dit wat jy jouself die afgelope vyf of tien jaar geleer het, inskop,” sê Demi Lee in Maroela Media se ateljee.

Demi Lee het in 2018 met Arnold Coleske se wenkontrak ter waarde van R1 miljoen weggestap tydens die eerste seisoen van Die Kontrak.

Sedertdien het sy een van die land se gewildste Afrikaanse sangeresse geword, met ʼn hele rits treffers agter haar naam soos “Mis, eet, slaap, herhaal”, “Wie se hart breek jy vanaand?” en die duet “Amanda” saam met Steve Hofmeyr.

Vanjaar kan Demi Lee weer met Die Kontrak se wentitel wegstap, aangesien sy vir die eerste keer as mentor vir die program gaan optree.

Sy sal meeding teen Refentse, Tarryn Lamb en Monique Steyn. Monique het in albei die vorige seisoene as wenner geseëvier met Demi Lee en Samantha Leonard, wenner van Die Kontrak 2, wat onderskeidelik in haar spanne deelgeneem het.

“Ons het gesê sy is die ‘wen’-tor, want sy wen elke keer. Ek gaan daai titel hierdie jaar steel,” sê Demi Lee laggend in Maroela Media se ateljee.

Vanjaar kies Demi Lee haar eie spannetjie saam met wie sy die pad voor die kassie wil stap. Sy verklap dat sy reeds vyf deelnemers gekies het en dat sy nog wag vir ʼn sesde een om haar te beïndruk.

Vanjaar soek sy na iemand wat moeiteloos sing. “Daar is baie mense wat geen sangopleiding het nie, maar dit kom natuurlik om te sing en so iemand moet jy net gryp. Om mooi te sing gaan jou egter nie alleen die kompetisie laat wen nie. Dit gaan oor baie meer as dit.”

Die inskrywings vir Die Kontrak 3 sluit op 29 April. Die program sal vanaf September op eTV uitsaai.

  • Luister na die volledige ateljeeonderhoud met Demi Lee Moore boaan die berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.