Die wêreld se diepste vis

Die wêreld se diepste vis (Foto: Alan Jamieson/Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre/Caladan Oceanic/Inkfish via Guinness-wêreldrekords)

Wetenskaplikes het nuwe bevindings gemaak oor die diepte waar visse steeds kan oorleef.

ʼn Jong Pseudoliparis-slakvis (die spesie moet nog bepaal word) is op 15 Augustus 2022 op ʼn diepte van 8,336 meter onder die oppervlak in die Izu-Ogasawara-trog naby Japan verfilm. Guinness-wêreldrekords het Dinsdag bevestig dit is die wêreld se diepste vis ooit.

Die ongekende diepte – meer as twee keer die vertikale hoogte van Foedji, die hoogste berg in Japan, is vermoedelik biologies die diepste vlak waarop visse kan oorleef.

ʼn Paar dae later, tydens dieselfde ekspedisie, is twee P. belyaevi-slakvisse uit ʼn diepte van 8,022 meter gehaal. Dit was ʼn waterskeidingsoomblik, omdat dit die eerste keer was wat visse dieper as 8 000 meter gevang is.

Mariene bioloë van die Universiteit van Westelike Australië (UWA) en Tokio-universiteit van Mariene Wetenskap en Tegnologie (Tumsat) het die slakvisse gedokumenteer tydens ʼn twee maande lange opname op die navorsingskip DSSV Pressure Drop (intussen hernoem na Dagon).

V.l.n.r. Toshio Iseki (president van Tumsat), Kaoru Ishikawa van Guinness-wêreldrekords, Alan Jamieson op die skerm, Hiroshi Kitazato (Tumsat) en Janine Pitt (van die Australiese ambassade in Tokio)

Die ekspedisie is ondersteun deur Caladan Oceanic and Inkfish en filmmakers van die Japannese uitsaaier NHK was ook aan boord.

Professor Alan Jamieson (Foto: Alan Jamieson/Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre/Caladan Oceanic/Inkfish via Guinness-wêreldrekords)

Die hoofwetenskaplike was UWA-professor Alan Jamieson, stigtersdirekteur van die Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre.

Jamieson is ʼn konsultant vir Guinness-wêreldrekords oor diepsee- mariene lewe en is die wêreldleier op hadeelorganismes – met ander woorde organismes wat dieper as 6 000 meter oorleef. Hy het tydens sy loopbaan verskeie rekordontdekkings gemaak.

Dit sluit onder andere in die diepste pylinkvis (6,212 m), die diepste seekat (6,957 m), the diepste tienpotige (7,703 m) en die diepste hidrosoon (10,063 m).

Jamieson sê temperatuur en druk het ʼn onrusbarende effek op selle. Visse sal dus waarskynlik dieper onder die see in warmer water kan oorleef. “Ons het twee jaar gelede ʼn studie gepubliseer oor ultradiepseevisse en bepaal dat die diepste waarskynlik aan Japan se kus sou wees, aangesien die trôe hier diep genoeg en effens warmer is as die vorige rekord in die Mariana-trog. En sowaar, dit was!”

Volgens hom sal ʼn diepte van tussen 8 200 m en 8 400 m die diepste wees waar visse sou kan oorleef. “Visse gebruik ʼn osmoliet in hul selle wat druk balanseer. Dit verhoed dat die selle op diepte inplof.”

Die vorige rekord vir slakvisse was in die Mariana-trog in die westelike Stille Oseaan op 18 Mei 2017. Die Japannese agentskap vir mariene aarde wetenskap en tegnologie (Jamstec) het berig ʼn slakvis is op 8,178 m opgemerk. Die Mariana-trog, 320 km suidwes van Guam, is die tuiste van die oseaan se diepste punt – die 10,935 m Challenger Deep.

Die vorige rekordhouer as diepste vis was die Mariana-slakvis (P. swirei) wat in die Mariana-trog opgemerk is (Foto: Alan Jamieson/Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre/Caladan Oceanic/Inkfish via Guinness-wêreldrekords)

 

As ʼn bewys dat die slakvis op 8,336 m nie ʼn eenmalige gebeurtenis was nie, is talle ander voorbeelde op ʼn diepte tussen 7 500 m en 8 200 m in die Izu-Ogasawara-trog verfilm (Foto: Alan Jamieson/Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre/Caladan Oceanic/Inkfish via Guinness-wêreldrekords)

 

Kamerastokke met aas is ʼn doeltreffende manier om diepsee mariene lewe te verfilm (Foto: Alan Jamieson/Minderoo-UWA Deep-Sea Research Centre/Caladan Oceanic/Inkfish via Guinness-wêreldrekords)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.